Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 1, 2009
January 23, 2009


Maak seker dat jou e-pos program die foto's in ons nuusbriewe wys ("Allow images"). As daar net kruisies verskyn waar ons foto's geplaas het, moet u nog die verstelling doen.

Kliek hier om hierdie Nuusbrief op ons webwerf te gaan lees!


Geagte Ouers

Dis ons eerste skrywe van 2009 en daarom wil ek graag vir 'n ieder en elk baie sterkte en voorspoed vir die jaar toewens en dat net die mooiste en beste met elkeen sal gebeur. Om ons jaar behoorlik georganiseerd te begin, gee ons graag die volgende deur:

1. Dit lyk asof al ons nuwe leerlinge reeds goed ingeskakel het, ook al die graad 1's. Indien daar egter enigiets is wat pla, wil ek spesiaal ons nuwe ouers uitnooi om met my te skakel, maar ook alle ander ouers. Neem asb vrymoedigheid, sodat ons enige krisis sommer vroeg kan uitsorteer. 'n Klein probleem wat oud word, word later 'n grote, maar 'n groot probleem wat dadelik hanteer word, voel soos 'n kleintjie.

2. Musiekonderrig hervat op Maandag, 2 Februarie. Musiek word slegs op Maandae tydens skooltyd aangebied, met teorieklasse tussen 14:00 en 15:00. Belangstellende leerlinge, wat reeds graad 3 en ouer is, moet oor 'n eie musiekinstrument beskik sodat hulle naweke kan oefen. Kostes vir beginners is N$50.00 per klas. Boeke word soos benodig deur onderwysers aangeskaf en van die ouers verhaal. Een van ons nuwe ouers, Me Petro Badenhorst, gaan ons ook help om kitaar, blokfluit en klavier aan te bied. Ons sê vir haar baie dankie daarvoor. Slegs een instrument per leerling kan gekies word. Alle leerlinge wat graag musiek wil neem moet asb vir ons die aangehegte afskeurstrokie volledig voltooi. Kliek hier om die afskeurstrokies te kry.

3. Ouers het die keuse om omsendbriewe per hand via die leerlinge, per e-pos of per faks te ontvang. Voltooi asb vir ons die aangehegte afskeurstrokie (kliek hier om dit oop te maak) volledig sodat ons vir u die omsendbrief kan stuur volgens u keuse. Elke week se omsendbriewe is ook op ons webwerf beskikbaar.

4. Balletafrigting neem ook in aanvang vanaf volgende week. Tannie Julie vra egter dat kinders baie seker maak of hulle wel ballet wil neem. Slegs leerlinge wie se gelde maandeliks vooruitbetaal is, sal toegelaat word om ballet te neem.

5. Private Collections, die leweransiers van ons skoolklere, sal weer op 29 en 30 Januarie by die skool wees met sweetpakke, sporthemde, sportbroeke, skooltasse, koshuishemde, ondersteunershemde en pawiljoenkussings. Ouers wat ander skoolklere benodig moet asb die bestelling plaas voor Dinsdag, 27 Januarie, om 14:00. Skakel met Barbara by 061-309588 en hulle sal dan sorg dat die regte items vir u saamgebring word.

6. Amor Vittone en Joost van der Westhuizen besoek die skool op 18 Maart. Joost gesels die namiddag met almal wat belangstel, natuurlik oor rugby. Die aand vanaf 18:00 word daar 'n steakete aangebied, en om 19:30 lewer Amor haar vertoning in die skoolsaal. Die kaarjies vir Joost en Amor, albei se optrede ingesluit, is N$100.00 vir volwassenes en N$50.00 vir kinders en die steakete is N$50.00 per persoon, wat ‘n 300g steak met bykosse en slaaie insluit. Hierdie gaan 'n baie gewilde optrede wees en daarom is kaartjies reeds vanaf Maandag by die kantoor en die graad 11-onderwysers, Juf Yanka en Mnr Kokkie, beskikbaar. Die fondse word aangewend vir die aanbieding van die Matriekafskeid. Dit is die enigste projek van die graad 11's vir die jaar. As daar 'n instansie of persoon is wat 'n borgskap wil gee vir die kostes van die twee persone, sal die graad 11's dit baie waardeer.

7. Volgende naweek vind ons Huiskompetisie plaas. Om alle items ingepas te kry, begin ons reeds Donderdagnamiddag. 'n Volledige program en beamptelys is vir elke leerling uitgedeel om dit vir u makliker te maak om u beplanning te doen.

8. Alle atlete trek die skool se atletiekdrag of blou broekie en sporthempie aan. Die spanne kry egter kentekens waaraan hulle uitgeken kan word, maar dit is belangrik dat elke kind sy N$5.00 by die spanbestuurders inbetaal.

9. Aangesien daar geen verdere projekte vir die graad 11's is nie, word ouers ook aan die besluit herinner dat elke graad 11-ouer N$1000.00 vir die matriekafskeidfonds moet inbetaal.

10. Aangesien die o/19B rugbyspan verlede jaar die wenners was van die Nasionale liga, kon hulle hul truie kry, en soek ons nou 'n borg vir die nuwe O/19B rugbytruie. Enigiemand wat belangstel moet asb so spoedig moontlik met Mnr Johan Adriaanse in verbinding tree.

11. In dieselfde asem wil ons baie dankie sê aan Mnr Jaco Visser van Anib Lodge wat hierdie jaar die o/19 netbaldrag borg.

12. Ons oorweeg om vanaf Vrydag, 6 Februarie, die klein bussie van die skool elke Vrydag en Maandag te laat loop vir Mariental kinders wat in die koshuis is. Ouers wat belangstel om hulle kinders met hierdie bussie te laat huistoe kom, moet asb die aangehegte afskeurstrokie (kliek hier om dit oop te maak) voltooi. Kostes is N$50.00 Vrydag en N$50.00 Maandag, vooruitbetaalbaar.

13. Die Mariental-bus wat daagliks loop se kostes sal voorlopig op N$650.00 per kind per maand bly.

14. Die Junior Primêre leerlinge het almal 'n boekerekening ontvang. Ons wil tog vra dat u asb doodseker sal maak dat hierdie geld in Carducci se rekening inbetaal word en nie in die skool se rekening nie.

15. Daar is 'n bietjie skoolklere in Carducci, wat u teen baie spesiale pryse kan bekom. Ons sal graag van hierdie items wil ontslae raak. Voordat u dus koop, kyk net of daar nie dalk nog iets in Carducci is wat u nodig het nie.

16. Ons het ook 'n klerebank in Carducci met tweedehandse klere. Kom kyk gerus of daar nie iets is wat u kind kan gebruik nie.

17. Mnr At Dreyer het vier skaaphondjies van ses weke oud waarvoor hy goeie base soek. Skakel asb vir Rina by 081-2422342.

18. Meer as dertig ouerpare het nog nie hul finansiële ooreenkomste aan die skool teruggestuur of voltooi nie. Ons hele administratiewe stelsel staan op hierdie stadium doodstil aangesien ons niks verder kan doen sonder dat ons nie alle ooreenkomste het nie. Die kinders bring die naweek die ooreenkomste saam huistoe en ons versoek asb dat u seker maak dat dit voltooi word en aan die skool teruggestuur word.

19. Ons sukkel al vir 'n hele paar jaar met die aanlope by ons verspringputte. Ons kan nou "conveyor belt" in Keetmanshoop kry. Dit kos ons egter N$3800.00 vir 50m. Ons soek dus baie dringend na 'n persoon of persone wat dit vir ons kan borg. Skakel asb vir Mnr Tinus by 081-2774762 as u kan help.

20. Daar is nog 200 dagboeke beskikbaar teen N$75.00. Hierdie is 'n item waarsonder ons ouers nie kan wees nie en ons wil u dus baie sterk aanmoedig om vir u 'n dagboek aan te skaf. Daar is ook nog heelwat eksemplere van die boek Wie is ek? deur Prof Stals teen N$20.00. Dit is ook 'n baie goeie stukkie leesstof om te hê.

21. Ek gee graag vir u die finale atletiekdatums soos ons dit die afgelope week ontvang het.

Laerskool:

  • Sub-Sone - 6 Februarie by Elnatan
  • Sone - 14 Februarie by Elnatan
  • Privaatskole Byeenkoms - 7 en 8 Maart in Windhoek

Hoërskool:

  • Sone - 21 Februarie op Marientel
  • Streek - 7 Maart by Elnatan (o/13 tot o/19)
  • Top 8-byeenkoms - 13 en 14 Maart in Windhoek
  • Nasionaal - 27 en 28 Maart in Windhoek (o/13 tot o/19)

22. Die volgende versoek rig ons maar elke jaar aan ouers. Ons verstaan dat dit vir u baie moeilik is om Maandagoggend u kleintjie by die skool te kom aflaai. As u egter, nadat die skool begin het, nogsteeds by die skool is, maak u dit vir u kleintjie sowel as sy juffrou baie moeilik. Ons wil dus versoek dat alle pappas en mammas tog maar sal ry as die skoolklok Maandagoggend lui. Ons wil nie wreed wees nie en probeer net help. Baie dankie reeds vir u samewerking.

23. Verlede naweek het ons agtergekom dat baie kinders nie uitteken op Vrydae nie. Dit het agterna baie oproepe tot gevolg om uit te vind waar kinders is en dus versoek ons dat u asb u kind sal uitteken voordat u hulle Vrydae neem.

24. Onthou ons Jeugdiens Sondagaand om 19:00 in die eetsaal. Ouers is ook welkom.

25. Baie sterkte aan die sotte wat die naweek saam met Juf Elize, Mnr Abie en die matrieks vir hulle kamp gaan. Ons hoop almal geniet dit baie.

Namens al ons personeel wil ons al ons ouers bedank vir die wonderlike gees en gesindheid waarmee almal 2009 begin het. Baie dankie ook vir alle mooi boodskappe en goeie wense. Dit gee vir ons die rustigheid en sekuriteit om ons beste te lewer gedurende 2009.

Kom ons probeer alles doen na die beste van ons vermoë, maar ons moet onthou:

"Soek eers die Koninkryk van God, en dan sal al die ander dinge vir julle bygevoeg word."

Laat dit ons prioriteit vir die jaar wees, want dan sal dit met ons baie goed gaan.

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page