Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 2, 2009
February 05, 2009


Maak seker dat jou e-pos program die foto's in ons nuusbriewe wys ("Allow images"). As daar net kruisies verskyn waar ons foto's geplaas het, moet u nog die verstelling doen.

Kliek hier om hierdie Nuusbrief op ons webwerf te gaan lees!


Geagte Ouers

Alle bedrywighede by die skool is nou volstoom aan die gang en om die trein op die spoor te hou, is dit noodsaaklik dat ons u voortdurend op hoogte hou van sake by die skool.

Dit is egter met groot kommer dat ons kennis geneem het dat Omsendbrief 1 deur baie min ouers gelees is, of dat kinders dit glad nie vir ouers gee nie.

Dit is beleid by die skool dat ons elke tweede Vrydag 'n skrywe uitstuur. Maak dus 'n punt daarvan om dit vir u kind te vra. Dit is baie maklik om te sê, "Ek het nie geweet nie".

As u egter die omsendbriewe deeglik lees behoort u van alles te weet wat by die skool gebeur.

Kom ons stel asb hierdie saak reg. Dit is sinneloos om ure te spandeer om vir u die inligting bymekaar te sit, maar niemand neem daarvan kennis nie.

1. Vanaf 11 tot 13 Februarie bied die Boerboktelersgenootskap 'n Boerbokkursus by die skool aan vir alle landbouleerlinge. Ouers en ander belangstellendes is welkom om ook die kursus by te woon. Kostes beloop N$150.00 per persoon. Die skool sal dit ook hoog op prys stel as iemand ons dalk kan help met 'n paar bale lusern.

2. Die ATKV uit Suid-Afrika is bereid om 'n redenaarskursus by die skool te kom aanbied. Kostes beloop N$80.00 vir leerlinge en N$160.00 vir volwassenes. Daar moet egter 'n minimum van 40 persone wees. As u of u kind belangstel, stuur asb vir ons die aangehegte afskeurstrokie (kliek hier om af te laai) terug. Dit behoort vir groot en klein van groot waarde te wees.

3. Minette van Vuuren gaan binne die volgende twee weke begin met haar perdry-klasse by die skool. Ons wil dus 'n finale opname maak van leerlinge wat belangstel om lesse te neem. Vul asb die terugantwoordstrokie (kliek hier om af te laai) in en stuur dit Maandag terug skool toe. Minette het formele opleiding hiervoor ontvang, en soos ek self ook 'n paar dae gelede weer uitgevind het, 'n perd is nie 'n speelding nie. Dit is belangrik dat kinders weet hoe om perde reg te hanteer, anders kan dit gevaarlik wees.

Elnatan Atletiek 4. Me Irene Human van Gobabis het tydens die verkoping by die atletiek 'n blou Tupperware bak vir een van ons ander ouers geleen om vleis in te pak. Sy weet egter nie wie dit was nie en sal baie bly wees as die persoon net die bak vir haar by die kantoor kom afgee. Me Human se naam is met rooi pen bo-op die bak geskryf.

5. 'n Datum wat nie in ons dagboek verskyn nie, is die van Mej Elnatan, wat op 8 April 2009 plaasvind. Dit is 'n glansgeleentheid by die skool en een van die mooi funksies wat u nie mag mis nie.

6. Volgende Donderdag, 12 Februarie, word die Valentynssokkie vir die Hoërskool gehou, en vir die laerskool word 'n fliek gewys. Kostes vir die fliek en die sokkie is N$5.00 per leerling.

7. Dit is met baie groot dankbaarheid dat ons vir u kan deurgee dat Tren Tyre gister ses nuwe bande vir die groot bus oorgetrek het wat deur hulle geskenk word. Hierdie is 'n massiewe skenking en ons wil u graag aanmoedig om die Tren Tyre-projek te ondersteun. Nuwe ouers wat nog nie kaartjies vir die projek het nie kan gerus 'n kaartjie by die kantoor afhaal.

8. Van vandag af loop die klein bussie Mariental toe vir koshuiskinders wat daarvan gebruik wil maak. Hierdie week was dit nog 'n groot deurmekaarspul met die reëlings. Van volgende week af sal dit egter so werk dat die eerste 12 kinders wat hulle plekke bespreek en betaal, voorkeur gaan kry om te ry. Kom dus sommer Maandagoggend en bespreek jou plek vir volgende naweek by Tannie Ansie.

9. In Omsendbrief 1/2009 het ons deurgegee dat die Privaatskole Atletiek op 7 en 8 Maart in Windhoek plaasvind. Dit was egter foutief. Dit vind wel plaas op 6 en 7 Maart in Windhoek. Die spanlys vir hierdie byeenkoms sal binnekort beskikbaar wees.

10. Vanoggend het daar reeds 24 van ons atlete na Walvisbaai vertrek vir die jaarlikse Prestige Atletiekbyeenkoms wat die naweek plaasvind. Baie sterkte aan hierdie atlete en baie dankie aan Mnr Kokkie en Juf Marietjie wat hulle vergesel. Baie dankie ook aan die ouers wat saamgaan.

11. Alle Laerskool atlete wat na vandag se sub-sone byeenkoms gekies word, moet volgende Saterdag, 14 Februarie, aan die sone-byeenkoms deelneem. Die byeenkoms vind weer by Elnatan plaas.

12. Ons nooi ook almal uit na die Afrikaanse Redenaars wat op Donderdagaand, 19 Februarie, in die skoolsaal plaasvind. Leerlinge wat die onderskeie kompetisies wen, gaan deur na die Nasionale Kompetisie in Windhoek later vanjaar. Kom ondersteun asb ook u kinders hierin.

13. Ons herinner al ons kinders en ouers aan die Jeugdiens Sondagaand om 19h00 in die dogters-eetsaal.

14. Die Nuwelingskonsert van gisteraand was weereens 'n heerlike geleentheid en ons glo dat alle nuwelinge nou ten volle deel van die skool voel en is. Baie dankie aan al die nuwelinge, saam met Mnr Abie en Juf Elize, wat vinnig en hard moes werk om die geleentheid moontlik te maak.

15. In die vorige omsendbrief het ons reeds gemeld van die optrede van Joost van der Westhuizen en Amor Vittone by die skool op 18 Maart. Daar is nog kaartjies beskikbaar, en ons wil graag ons ouers aanmoedig om te koop. Om die geleentheid groter te maak en kostes vir ons ouers te bespaar, het ons ook besluit om ons jaarlikse Sanlam-NBC-Pretdag ook op die 18 Maart aan te bied. Daar gaan dus glad nie skool wees op daardie dag nie en kinders en ouers kan mekaar weer die stryd aansê in 10km en 5km stap, 35km en 10km fietsry, asook ‘n nuwe item van 30km perdeuithourit. Aktiwiteite begin reeds die oggend 07h00 en eindig die aand met Amor se vertoning in die skoolsaal. Intussen gaan Joost nog motiveer en rugby gesels, en die o/13 Hardap rugbyproewe vind ook nog die middag van 14:00 af plaas. Ons gaan volgende naweek die borgvorms uitgee vir hierdie projek. Verlede jaar het ons N$106 000.00 met die poging gein. Kom ons probeer om dit die jaar te verbeter. Hierdie beloof om 'n heerlike dag te wees, en ons nooi al ons ouers uit om te kom deel in alles.

16. Mnr Tinus versoek alle mammas van Huis Cora om asb seker te maak dat alle kleintjies kosblikke het. Geen kos word in kamers toegelaat nie. Alle kos word in kosblikke in die koskamer toegesluit.

17. Huis Cora leerlinge mag ook nie sonder hulle ouers aandfunksies bywoon nie. Ouers mag wel skriftelik toestemming gee dat hulle saam met ander volwassenes gaan, maar nie saam met boeties of sussies nie. Die kleintjies raak vroeg aan die slaap en as hulle daar wakker word moet hulle koshuis toe gedra word, en dan huil hulle oor pa en ma. Die beste is dus dat hulle rustig in hulle roetine bly.

18. Die hele jaar se omsendbriewe word geborg deur Sand en Steen, Mariental en Mariental Hotel. Albei besighede van Mnr Ernst Simon, wat 'n baie oop hand vir die skool het. Ons herinner ook ons ouers aan die spesiale aanbod vir verblyf by Mariental Hotel. Hieronder 'n advertensie van Sand en Steen, Mariental. Baie dankie aan Ernst en Onelle vir hierdie pragtige gebaar en vir elke keer wat julle maar net help as die skool julle nodig het.

Sand en Steen, Mariental

"...In geloof of gebed hoef ons nooit vir God te probeer beindruk nie...… Hy werk met genade, nie met verdienste nie. Aan die kruis het Jesus baie goed geweet dat die moordenaar wat langs Hom hang, uit blote vrees sy 'bekeringswoorde' uitgestotter het. Hy het geweet die man sou nooit 'n indrukwekkende gebed kon opsê, ywerig Bybelstudie kon doen, kerk of sinagoge toe kon gaan, of kon goed doen aan diè wat hy vermoor of veronreg het nie. Maar toe die man die eenvoudige woorde bid: 'Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom,' het Jesus sonder 'n oogknip belowe: ‘Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’

Laat ons dan met vrymoedigheid glo en bid, wetende dat God se genade nie gebou is op dit wat ons vir God kan doen nie, maar op wat Christus reeds vir ons gedoen hèt."

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page