Back to Back Issues Page |
![]() |
Elnatan Nuus, Nr. 3, 2010 February 27, 2010 |
Geagte Ouers
Dit is weer tyd om met u te kommunikeer, en ons gee graag die volgende deur: 1. Die leerlingraad wil graag 'n skoolvlag laat maak wat soggens saam met die landsvlag gehys kan word. Hulle soek ontwerpe daarvoor, en ouers sowel as kinders kan dit afgee by Juf Elize of u kan dit e-pos na elize@elnatan.com. 2. Die projek wat ons doen in samewerking met Aroab se Privaatskool vir die jag- en vakansiepakkette vorder redelik. Dit is fantastiese pakkette en baie goedkoop. Daar is nog enkele kaartjies oor, en daar is moontlik kinders wat nog nie hulle pakkette verkoop het nie. Ons versoek tog dat u ons asb sal help om dit verkoop te kry. Die sluitingsdatum was oorspronklik 1 Maart, maar is nou uitgestel na Maandag, 29 Maart. 3. Teen die einde van verlede week het ons nog asem opgehou vir die inkomste van ons Pretdag, 'n skrale N$8000.00. Hierdie week het dit pragtig gegroei sodat dit nou bykans op N$70000.00 staan. Ouers... baie, baie dankie daarvoor. Daar is fisies begroot vir N$120000, maar as ons net met die jagpakkette en Pretdag saam daar kan uitkom, dan is dit ook reg. Die Pretdag is een van twee projekte wat deur die jaar geloods word om ons begroting te laat klop, en van personeelkant wil ek u verseker doen ons alles in ons vermoë om dit reg te kry. Dit voel soms vir ons of u as ouer dink dit is ons wat hierdie geld vir onsself bymekaar maak, want personeel loop die afgelope tyd deur onder die mees venynige opmerkings denkbaar. Ons sal juig as ons dit nie hoef te doen nie, want ons het oorgenoeg om ons besig te hou. Die ander alternatief is om die geld by die skoolfonds in te werk en die skoolfonds nog hoër te maak. 4. En ouers, terwyl ons by die onderwerp van geld is wil ek nou ook maar vir u vra om asb op te hou om op onderwysers te vloek of te loop en sleg praat omdat daar vir u geld gevra word vir 'n Pretdag, 'n jagkaartjie, 'n sporttoer, handboeke, ens. Soos ek sê, ons steek nie 'n sent van hierdie geld in ons sakke nie, nee, ons werk ons agterente af om dit in te kry en dan word elke druppel daarvan terug gesit in u kind. Ons vra nie dat al hierdie dinge moet gebeur nie, ons kry opdrag dat dit moet gebeur. En nie van 'n onbekende persoon nie, maar van u as ouers. Ouers kruisig ons as daar nie sportontwikkeling is nie, die Direksie wil weet waarom die fondsinsamelingsprjekte nie inbring soos begroot nie, ander stenig ons oor akademie. Ons kan tog nie alles uit ons eie sak finansier nie. Ouers, ek weet dit is moeilike finansiële tye, maar dit is nie regverdig dat onderwysers geblameer word omdat kinders moet skoolgaan nie. Ons betaal ook elke sent wat u betaal, en sommige van ons het ook drie kinders. Nee ouers, ek is baie lief vir julle, maar 'n paar van ons kan nie 420 kinders en 840 ouers se frustasies dra omdat die hele wêreld ekonomies swaarkry nie. Enige mens kan dit ook maar net tot op 'n punt vat, en ongelukkig is ek nou die ou wat vir u moet sê dat ons hierdie venyn nie verder gaan vat nie. Nie op finansiële gebied nie, maar ook nie op enige ander gebied nie. Behandel ons asb met respek soos u met respek behandel wil word. Jammer dat ons vroeg moet baklei, maar kom ons swaai hierdie gesindheid om in presies die teenoorgestelde rigting, en ons kry almal saam die swaarkry met lekkerkry klaar. 5. Nogsteeds by die negatiewe. In omsendbrief 2/2010 is die name van die leerlinge wat op die sporttoer gaan vir u deurgegee as 'n aanhangsel soos ons dit met Stellenbosch kommunikeer. Na die omsendbrief het 'n herrie losgebars rondom een van ons personeel se koppe, want wie is sy dan nou om sommer al posisies aan te wys vir netbalspanne terwyl daar nog nie eers oefeninge was nie. Saam daarmee was dreigemente van kinders wat nie meer gaan netbal speel nie, en, en, en. Ai ouers, al wat daardie aanhangsel veronderstel was om te sê, was net die name van die spelers wat sou gaan toer. Stellenbosch het ons egter gedruk om spanlyste vir hulle deur te gee wat aan posisies gekoppel was en daarom het die toerorganiseerders net gaan sit en die rugby van 1 tot 22 in posisies geplaas en die netbal sommer net in 'n posisie geplaas, sonder enige bedoeling dat dit nou die posisie van die kind vir die jaar sal wees. Ongelukkig het ons toe nou dieselfde dokument net so deurgestuur na ons ouers omdat dit vir ons baie tyd gespaar het. Die finale spanlyste moet egter eers na 1 Maart in wees, en dan sal ons 'n meer finale lys met posisies Stellenbosch toe stuur wat deur elke afrigter opgestel is. Dit sal ook maar net 'n voorlopige lys wees, want geen afrigter kan 'n finale span opstel as daar nog nie eers 'n oefening was nie. Ai ouers, hou tog maar die kwaad word en woede so 'n bietjie terug, vind eers uit hoe het 'n saak gewerk. U het die telefoonnommers van elke Topbestuurslid. Die koste van 'n telefoonoproep is nie naastenby te vergelyk met die skade wat mense en die skool aangedoen word in so 'n veldtog nie. 6. Dis nou seker genoeg van baklei, maar ek sê altyd 7. Ons het reeds in 'n vorige skrywe deurgegee van die Privaatskole atletiek op 12 en 13 Maart. Op 11 Maart om 8:00 begin die laerskoolkongres vir alle laerskool onderwysers, en 14:00 begin die vakvergaderings van hoërskoolonderwysers ook in Windhoek. Die oggend van 11 Maart word alle matrieks na besighede en instansies geneem om praktiese inligting te versamel vir hulle portefeuljes. Dit alles beteken maar net dat die skool op Woensdag, 10 Maart, om 13:00 sluit en alle leerlinge, behalwe matrieks, dan 'n langnaweek het. Die atletiek begin Vrydag, 12 Maart, om 10:00. Dit is hoofsaaklik laerskoolatlete wat deelneem aangesien ons hoërskoolatlete Saterdagoggend aan die streeksbyeenkoms in Rehoboth deelneem wat ook 7:00 veronderstel is om te begin. 33 van ons hoërskoolatlete is by die byeenkoms. As dit moontlik is wil ons graag hê dat al ons atleetjies Vrydagoggend in Windhoek in volle sweetpak sal aanmeld vir die optog dat ons 'n mooi indruk daar skep. 8. Die matrone het gevra dat klere wat gewas moet word net op Maandae in die was gegooi kan word, en geen ander dag nie. Klere moet ook duidelik gemerk wees anders kan geen verantwoordelikheid daarvoor aanvaar word nie. 9. Vanaf 1 tot 3 Julie bied SOS 'n noodhulpkursus by die skool aan. Hulle doen dit vir ons teen 'n baie spesiale tarief van N$550.00 in plaas van die normale N$700.00. Belangstellendes wat dit wil bywoon moet asb met ds Smit Kotze skakel by 0812500746. 10. Verlede week het ons jaarlikse Afrikaanse Redenaars plaasgevind. Die wenner vir Junior Primêr was Amelia van der Merwe, Snr Prim Shirley Joubert, Jnr Sekondêr Emdee O’Callaghan en Snr Sekondêr Peru Liebenberg. Baie geluk aan elkeen van hulle, en baie sterkte vir hulle volgende deelname in Windhoek. 11. Dit is vir ons belangrik om vir u vroegtydig deur te gee dat ons nie meer vanaf 2010 leerlinge vir pryse by prysuitdelings in ag sal neem indien leerlinge nie alle eksamens gedurende die jaar volledig geskryf het nie. 12. Van gister af vind die skaapkursus vir die landbouleerlinge by die skool plaas. Dit word aangebied deur Mnr Bertie van Zyl. Ons sê vir hom baie dankie. Ons kinders het dit baie geniet. 13. Die sone atletiek vir O/11 en O/13 was op 19 Februarie en hier was Mienke van Rooyen die beste O/11 dogter, CJ Agenbach die beste O/11 seun en Wihan von Wielligh die beste O/13 seun. Tydens die sone atletiek vir hoërskole is Riekert van der Merwe aangewys as die senior Victor Ludorum. Baie geluk aan al die atlete met pragtige prestasies. 14. Komende naweek vind 'n groot tennistoernooi in Keetmanshoop plaas. Veertien van ons kinders is saam met Elfie en Johan Moolman om ons skool daar te gaan verteenwoordig.
Mag u almal 'n baie geseënde naweek hê. Dawie O’Callaghan Skoolhoof
Groetnis,
Dawie O'Callaghan
(Sien hieronder foto's.) ![]()
Middel vlnr: Janneman Lambrechts (Beste langafstandatleet, Laerskool), C.J. Aggenbach (Junior Victor Ludorm, o/10 & o/12), Wilmar du Toit (Junior Victor Ludorm, o/7, o/8 & o/9), Lize Moolman (Junior Victrix Ludorm, o/13 & o/15), Mienke van Rooyen (Junior Victrix Ludorm, o/10, o/11 & o/12) Voor: Danèl Dreyer (Junior Victrix Ludorm, o/7, o/8 & o/9) Heel agter: Mnr en mev de Klerk - Borge van medaljes
|
Back to Back Issues Page |