Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 5, 2009
March 05, 2009


Kliek hier om hierdie Nuusbrief op ons webwerf te gaan lees!

Geagte Ouers

Tyd vir ons gebruiklike omsendbrief en ons gee graag vir u die volgende deur:

1. Ons glo dat elkeen van ons boere teen hierdie tyd baie goeie reën gehad het en ons loof en prys ons Hemelse Vader vir Sy groot genade en goedheid vir ons.

2. Aangesien die borg van die Streeksbyeenkoms wat volgende naweek by ons plaasvind nie meer die medaljes en trofeë borg nie, soek ons dringend na 'n borg vir 30 medaljes en vier trofeë vir die byeenkoms. Skakel asb so spoedig moontlik met my indien u ons kan help. Dit is 'n groot byeenkoms en daar sal groot prominensie aan die borg verleen word.

3. Ons herinner aan die Mej Elnatan-aand op 8 April. Daar is slegs enkele tafels beskikbaar. U sal moet spring om nog plek te kry. Vyftien dogters en seuns neem deel aan die geleentheid. Kaartjies is N$70.00 per persoon, en sluit 'n ete in.

4. Vanaf 1 April is die eenslaapkamer-woonstel van Me Ansie van der Westhuizen beskikbaar vir ons ouers. Skakel haar by 081-2065979. Die huur beloop N$1200.00 per maand.

5. Na ons vorige omsendbrief het ons weinig reaksie gekry van enigiemand wat 2009 Dagboeke gekoop het. Dit sal die laaste jaar wees wat ons dagboeke laat druk, daarom wil ons vra of u nie tog nog maar 'n dagboek wil koop nie, al is dit nou al laat in die jaar.

6. Ek het weer 'n baie ernstige versoek uit die finansiële kantoor ontvang: dat ouers asb doodseker moet maak dat gelde op die regte rekeninge inbetaal word. As u alle rekeninge se geld dalk op een rekening inbetaal het, versoek ons baie mooi dat u met Corrie sal skakel en die probleem sal uitsorteer.

7. Ons is baie deeglik daarvan bewus dat, al het dit baie goed gereën, ekonomiese omstandighede nie goed is nie. Tog neem ons die vrymoedigheid om te vra of u nie vir ons 'n bietjie wil help om ons doelwit, soos verlede jaar, met die Pretdag te bereik nie. Die reaksie is hierdie jaar baie, baie swak en as dit nie na Maandag toe verbeter nie, kan ons maar net sowel die dag afstel. Van die skool se kant kan ons reël en motiveer, maar as ons nie u ondersteuning vir die saak kry nie, dan is dit gedoem tot mislukking. Verlede jaar het ons oor die N$100 000.00 gemaak en die uitgawes vir ons ouers was minimaal. Om hierdie teiken weer te bereik moet ons weer ongeveer N$250.00 op elke kind se borgvorm hê. Trek bietjie die buurman of oupa of oom of wie ookal nader en laat ons weer 'n sukses van die geleentheid maak.

8. Daar is ook gerugte onder ons ouers dat ons die besoek van Joost en Amor moet kanselleer. Ons moet tog maar baie mooi dink oor uitlatings wat ons maak na aanleiding van wat ons in die media lees. Ons ken die media en moet asb nie daarvolgens 'n oordeel vel nie. Enige persoon is onskuldig totdat hy amptelik skuldig bewys is. As Joost skuldig bewys word, sal ons natuurlik sy optrede kanselleer, want dit is nie die rolmodelle wat ons vir die skool wil hê nie. Indien dit egter nie gebeur nie, kan ons nie as regter optree nie.

9. Een van die persone wat 'n jagpakket sou skenk het intussen die pakket onttrek. Die pakkette is egter deurgegee vir die skool in die Kaap en hulle het dit reeds in die media adverteer. Ek soek dus baie dringend na 2 gemsbokke en 10 springbokke. Een persoon hoef nie alles te gee nie. Dit kan verskillende persone wees, maar verkieslik darem nie te ver van mekaar nie. Help my asb.

10. Enkele ouers het van kampeerplekke gebruik gemaak tydens die huiskompetisie aan die begin van die termyn. Slegs een persoon het vir die staanplek betaal. Ons wil tog vriendelik versoek dat die ander kampeerders u N$50.00 per nag by Corrie sal inbetaal.

11. Vanaf Vrydagmiddag om 14:00 vind die Nasionale Privaatskole Atletiek in Windhoek plaas. Ons wil ons atlete alle sterkte toewens. Die kompetisie gaan hierdie jaar nog baie strawwer wees, aangesien ons verlede jaar dertien skole was, en hierdie jaar 25 skole. Dit gaan ook nog baie meer vra van ons gedrag, sportmangees en ambassadeurskap. Kom ons neem almal voluit deel, maar wys ook dat ons een van die oudste privaatskole in die land is, en dus 'n navolgenswaardige voorbeeld vir die res stel. Al ons atlete moet deurlopend onberispelik lyk. Onthou tog, koshuishempies is nie sportdrag nie. Ons neem deel in atletiekdrag.
Kliek hier om die volledige program af te laai.

12. Aangeheg is 'n wonderlike aanbod van die Hotel Deutsches Haus in Swakopmund vir die tydperk 1 tot 10 Junie 2009. Aangesien ons die week daarna vakansie het is dit net die regte geleentheid om lekker te gaan uitspan.

13. Die bidgroepie begin weer op 19 Maart om 10:30 met hul gebedsgeleenthede in die skoolsaal. Almal is baie welkom om saam te bid.

14. Die afgelope week het Mnr Faan Oosthuizen 'n rugbyskeidsregterskursus by die skool aangebied. Die kursus was gratis en ons sê baie dankie aan oom Faan en die skeidsregtersvereniging vir die gebaar. Baie dankie ook aan die manspersoneel asook seuns en dogters wat die kursus bygewoon het. Ja, dogters ook.

15. Die Boerbok-kursus was ook 'n reuse sukses en in die verband sê ons graag baie dankie aan Mnr Willie Coetzee wat op skitterende wyse die kursus vir die leerlinge aangebied het.

16. Tydens 'n spesiale Direksievergadering is die volgende sake bespreek en besluite geneem:

  • Alle ouers met agterstallige rekeninge het voor die Direksie verskyn, betalings is gedoen of skriftelike ooreenkomste is met ouers aangegaan. Hierdie aksie sal deurlopend plaasvind en as daar nie 'n aanvaarbare skikking met ouers bereik kan word nie, sal sodanige persone gevra word om hul kinders uit die skool te neem.
  • Die uitbreiding van die landbou-afdeling is op versoek weer bespreek, maar die Direksie het besluit om geen veranderinge toe te laat nie en die status quo word dus gehandhaaf.
  • Alle probleme rondom die skoolklere en die leweransier is bespreek, soos vanaf die ouergroepe ontvang. 'n Afvaardiging van die Direksie het 'n afspraak op 6 Maart met die leweransiers in Windhoek.
  • Die geweldige toename van leerlinge by die Hulpsentrum het indringende gesprekke rondom die aspek teweeg gebring. Me Hester Boshoff gaan weg aan die einde van die eerste termyn en dan word die twee Graad I-klasse bymekaar gesit. 'n Klas is dan beskikbaar en daarna sal 'n ekstra persoon aangestel word wat voltyds leerlinge van Graad 1 tot 3 in 'n hulpklas akkommodeer.
  • Me Ansie van der Westhuizen het bedank as sekretaresse en die Direksie het Me Cora O'Callaghan aangestel as algemene sekretaresse. Die kleintjies hoef nie bekommerd te wees nie, Tannie Cora is nogsteeds by julle ook.

17. Die O/19A rugby, O/19 en O/16-netbal, en dogtershokkie neem die Onafhanklikheidsnaweek in Windhoek aan die HTS-toernooi deel. Kostes vir die bus en verblyf is N$200.00 en moet Maandag by die onderskeie afrigters inbetaal word.

18. Aangeheg is weer vorms vir die Cairoo rekenaar leerprogramme. Indien u belangstel dat die mense u moet gaan sien, voltooi asb die vorms en stuur terug skool toe.

"Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is."
~Jeremia 17:7

"Sonder die Lewende Christus as jou Stuurman, sal jy moeilik die storms van die lewe kan oorleef. As Hy deur die Heilige Gees al jou beslissings en woorde kontroleer, sal jy vreugde en vrede ken."
~Solly Ozrovech

'n Baie geseënde en voorspoedige naweek vir u almal toegewens.

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page