Back to Back Issues Page |
![]() |
Elnatan Nuus, Nr. 7, 2009 April 03, 2009 |
Geagte Ouers
Die afgelope twee weke het 'n fenominale klomp dinge by die skool gebeur, en daarom is dit noodsaaklik dat ons alles met u kommunikeer. Hierdie beloof om 'n lywige nuusbrief te wees, gebruik dus u tyd om sorgvuldig hier deur te lees.
1. In Carducci is nog 'n klompie sweetpakke. Ouers wat belangstel kan hierdie sweetpakke bekom teen halfprys. Indien u nog sweetpakke moet koop vir die winter, kom kyk gerus eers, dit kan u baie geld spaar.
2. Op 14 April, net na die Paasnaweek, begin ons met ons mini-eksamen vir die termyn. Leerlinge in die laerskool sal dan elke oggend van 7:00 tot 8:00 en hoërskool-leerlinge van 7:00 tot 9:00 met eksamen besig wees. Daarna sal klasse normaal aangaan, maar leerlinge sal geen huiswerk vir die volgende dag ontvang nie, sodat hulle kan voorberei vir die eksamen. Leerlinge sal elke dag skryf sodat daar nie te veel onderrigtyd verlore gaan nie. Die buitemuurse program gaan egter normaal voort.
3. Ons wil vir almal baie dankie sê vir die wonderlike ondersteuning met die Appelprojek van die Kankervereniging. Die reaksie was regtig uitstekend. Ons het die pragtige bedrag van N$11 500.00 ingesamel. Appels word op 27 April uitgedeel.
4. Die O/13 rugby en netbal toergroep vertrek vandag vir hulle toer na Riebeeck Kasteel. Hulle neem volgende week deel aan 'n toernooi waar 27 skole van dwarsoor Suid-Afrika betrokke is. Ons is die enigste skool uit Namibië, en dit behoort 'n wonderlike ervaring vir ons kinders te wees. Ons wens hulle alle sterkte toe, en sê ook baie dankie aan al die ouers wat die toer meemaak. Ons hoop julle almal geniet dit gate uit. Die groep sal weer op Stampriet terug wees op Vrydag, 10 April, tussen 8:00 en 12:00.
5. Alle skool- en Carducci-rekeninge sal volgende Donderdag met Paasnaweek gereed wees en uitgestuur word na ouers. April betalings was nie goed nie, en ons wil vra dat ouers asb rekeninge van die begin van die jaar af op datum sal hou. Kinders wie se skoolgeld nie op 14 April op datum is nie, sal nie toegelaat word om eksamen te skryf nie. Indien daar foute op rekeninge is moet u asb nie huiwer om met die finansiële sekretaresse in verbinding te tree nie.
6. As gevolg van busse wat vanaf Windhoek en die kus bymekaar moet aansluit om ons leerlinge by die huise te kry, asook verskeie versoeke van ouers om vroeër te ry vir die Paasnaweek, het ons besluit om die skool volgende Donderdag om 10:00 te sluit.
7. Die Graad 11's wil graag die hele gemeenskap bedank vir die pragtige ondersteuning met die besoek van Joost en Amor aan die skool. Hulle het die mooi bedrag van N$8000.00 ingesamel vir die matriekafskeid.
8. Tydens verlede naweek se Nasionale Atletiek in Windhoek het die 24 atlete van ons skool wat deelgeneem het, wat 'n rekordgetal was, nie minder nie as 14 medaljes teruggebring huistoe, waarvan 3 goud. Die mees merkwaardige prestasie was die van Strydom van der Wath wat die spies vir O/19 69,58m gegooi het. Die koerante was die afgelope week vol oor die seun se prestasie, want dit het nie net alle Namibiese rekords verpletter nie, maar is wêreld standaard. Baie geluk aan hom en al die ander atlete wat pragtig presteer het.
9. Drie van ons skool se atlete is ook in die Namibiese O/17-span opgeneem wat later vanjaar in Suid-Afrika aan die COSSASA toernooi gaan deelneem. Hulle is Schearita van der Merwe, Joleen le Roux en Hannecke van der Wath. Baie geluk aan hierdie drie dogters met uitstaande prestasies.
10. Vandag en Saterdag neem ses van ons atlete deel aan die Frankie Fredericks byeenkoms in Windhoek. Baie sterkte aan hulle, en tydens die byeenkoms het atlete weer 'n geleentheid om opgeneem te word in die Namibiese span.
11. Almal word herinner dat ons van Sondag af oorskakel na wintertyd. Dit beteken dat ons vanaf Maandag ook op die buitemuurse program vir die winter werk.
12. Alle NG Kerk-katkisante word herinner dat julle kategeseboeke Maandag betaal moet word. Koste van boeke is N$35.00.
13. Daar sal volgende week geen ballet wees nie as gevolg van die kinders wat op toer is.
14. Me Maritza Snyman is op soek na ‘n goeie tweedehandse skoolbaadjie. As daar iemand is wat ‘n baadjie wil verkoop kan u haar skakel by 0813867009.
15. Dit word weer winter. As die ma's kaste uitpak, en met oortollige klere sit wat te klein is, kan u dit gerus vir die Helpende Hande skenk. Gee asb af by die Hulpsentrum.
16. Me Christine Visser van Swakopmund het vyf kamers en vyf woonstelle beskikbaar. As u nog blyplek soek vir die Privaatskole Sportnaweek kan u haar skakel by 0811241445.
17. Vir 'n skamele N$100.00 kan u 'n kaartjie wen na vanjaar se Huisgenoot Skouspel. Die datums is 2 tot 4 Oktober of 9 tot 11 Oktober. Die prys sluit vliegkaartjies vir twee persone vanaf Windhoek na Johannesburg en terug in, twee sitplekke in die Sun City bus, twee aande akkommodasie by Sun City en kaartjies vir twee persone na die Skouspel. 'n Lekker vet prys vir baie min geld. Kaartjies is by Cora by die kantoor beskikbaar.
18. Ons sê baie geluk aan ons krieketspan wat tot in die semi-finale gevorder het, en toe ongelukkig teen Mariental verloor het. Baie dankie aan Mnr Schalk de Klerk wat die hele seisoen as skeidsregter vir die span opgetree het.
19. Die rugbyspelers wat gedurende die Mei-vakansie op die Potchefstroom-toer gaan moet Maandag ten minste 50% van hul toergeld inbetaal en die res voor die skool sluit. Almal se paspoorte moet ook Maandag ingehandig word om te kyk of alles in orde is.
20. Twaalf van ons leerlinge is nou amptelik Junior Skeidsregters nadat Oom Faan Oosthuizen Woensdag-aand sy tweede skeidsregterskursus by die skool voltooi het. Die dogters en seuns sal van nou af die vlag hanteer tydens wedstryde of junior wedstryde blaas. Ek en Mnr Tinus is as Senior Skeidsregters gekwalifiseer.
21. Alle ouers en senior leerlinge wat belangstel om 'n noodhulpkursus op Stampriet by te woon moet asb vir ons die aangehegte afskeurstrokie (kliek hier) voltooi en terugstuur. 'n Minimum van 15 persone is nodig om die kursus te laat afkom. Koste beloop N$350.00 per persoon.
22. Tydens die HTS Kampioenskappe het ons O/19A-rugbyspan vierde geëindig, O/16-netbal tweede en O/19-netbal derde. Dit is alles pragtige prestasies aangesien die top spanne in die land deelgeneem het. Ons sê vir hulle baie geluk.
23. Die afgelope Maandag het ons O/19A rugby teen 'n toerspan uit die Vrystaat gespeel, en die wedstryd met 24 – 0 gewen. Baie geluk aan hierdie manne.
24. 'n Baie groot dankie aan almal wat bygedra het om ons Pretdag weer 'n groot sukses te maak, spesiaal aan Sanlam, Mariental, wat hulle hand diep in die sak gesteek het. Tot sover het ons die mooi bedrag van N$86 558.00 ingesamel. Daar is egter nog borgvorms uitstaande, en ons versoek dat dit nie later as Maandag ingehandig sal word nie.
25. Baie dankie ook aan
26. Mnr Jaco Louw het 'n Fiat Strada bakkie wat hy graag wil verkoop. Sien aangehegte advertensie. Ongelukkig net vir persone wat die nuusbrief per hand ontvang. Skakel hom egter by 081-1221077 vir meer inligting.
27. Daar is steeds 'n klomp matrieks wat nie die eerste gedeelte van hul eksamengelde betaal het nie. Dit kan nie later as Maandag inbetaal word nie.
28. Privaatskool Elnatan bied die naweek van 17-19 April 'n Ouerleiding-naweek aan. Die kamp is primêr gemik op gesinne wat aan Elnatan verbonde is, maar enige belangstellendes wat die naweek wil meemaak is welkom. Die kamp maak voorsiening vir baie pret en plesier, sport, sports en konsert, maar wil veral geestelike behoeftes aanspreek. Interessante, verreikende onderwerpe gaan in werkswinkel-formaat bespreek word. Die insette van alle teenwoordiges gaan ons verryk en vorm en dieper laat dink.
Die kamp sal op die Privaatskool Elnatan-terrein aangebied word. Kampplek is beskikbaar, asook koshuis-verblyf vir die wat verkies om nie te kamp nie. Die koste aan die kamp sal minimaal wees, en belangstellendes kan skakel met mnr. Dawie O'Callaghan (skoolhoof) by (063) 26 0079, en ds. Attie Boshoff by (063) 26 0205.
Onderwerpe gaan in werkswinkel, saampraat-formaat behandel word, nie lesings nie. Onderwerpe wat die naweek behandel word is: 1) Die invloed van die post-moderne denke op ons samelewing en skool. (Ds Attie Boshoff) 2) Die samewerkingsverband tussen die huisgesin, die skool en die kerk. (Ds Marthinus Snyman) 3) Die waardestelsels in die kind se begeleiding tot volwassenheid deur die ouerhuis en die skool. (Ds Gerhard Liebenberg) 4) Verantwoordelike ouerskap. (Mnr Dawie O'Callaghan)
Die program is so opgestel word dat dit 'n heerlike naweek vir die gesin is om by te woon. Daar is genoeg sport(s) en ontspanning in die program, dinge soos bv. jukskei, volleyball, rounders, snelkrieket, boeresport, en selfs skyfskiet. Daar is tyd vir 'n lekker kampvuurkonsert. Daar gaan gesellig saamgekuier word rondom die kospotte en braaivleisvure. Daar is tyd vir werklike kontak met die Here in aandgodsdiens en oggendstilte. Die naweek word afgesluit met 'n erediens. Ons kan reël om kinders se wasgoed te doen sodat hulle weer reg is vir skool.
Die program is:
Vrydag middag 15:00 – 15:45 Gesellige en interessante ysbreker en kenmekaar
Vrydag aand
19:00 Ete (braaivleis – elke gesin braai vir homself)
Saterdag oggend
06:30 Koffie en beskuit (elke gesin sorg vir homself) Saterdag middag
Rustyd
Saterdag aand
Aandete by kampvuur (Potjiekos wat Windhoek ouergroep voorberei – dankie!)
Sondag oggend
06:30 Koffie en beskuit/ontbyt (elke gesin sorg vir homself)
Mariental ouergroep reël "volleyball", "rounders" en snelkrieket.
Voltooi asb die aangehegte afskeurstrokie (kliek hier) indien u beplan om die kamp by te woon. Ons het soveel mense rondom ons wat bemoediging nodig het, daarom sluit ons af met twee versies uit Jesaja vir almal wat voel of die lewe vandag net te veel geraak het: "Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur die water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie." |
Back to Back Issues Page |