Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 7, 2010
April 09, 2010



Geagte Ouers

1. Die volgende is van die direksie af deurgegee:

  • Na aanleiding van Mnr. Dawie se afwesigheid vir die res van die termyn, doen die direksie 'n dringende beroep op ons ouers om asseblief die regte kanale te volg indien u sake of probleme wil aanspreek. Wees ook asseblief daarop bedag dat klas- en afrigtingstye gerespekteer moet word en liefs afsprake met sodanige personeel gemaak moet word. Ons vra dat u hierdie versoek in die regte lig sal sien en sal handhaaf. Tyd is baie beperk aangesien die topbestuur die volle bestuur moet dra en ons nie graag wil sien dat kosbare tyd vermors word nie. Ons versoek is dat u ons die geleentheid as direksie, topbestuur en personeel sal gee om die skool na die beste van ons vermoë te bestuur.
  • Na aanleiding van 'n vergadering tussen ouers, personeel, 'n eksaminator van die IEB en twee lektore van die PUK, wil ons graag die volgende aan u deurgee:

      1. Namibiese aansoeke aan universiteite word beskou as buitelandse aansoeke en is onderhewig aan 'n ander proses vir keuring deur HESA vir toelating aan 'n universiteit. Dit is 'n tydrowende proses en kan maande duur. IEB is egter 'n Suid-Afrikaanse eksamen en kinders wat hierdie eksamen skryf se keuring word nie deur HESA hanteer nie.

      2. Indien aansoeke egter nie alreeds Februarie die pad begin loop nie, raak die kanse op toelating al meer riskant aangesien 'n totale toestroming en ooraanbod laat in die jaar ondervind word by universiteite. Dus veroorsaak "tyd" en "aanbod", ongeag 'n leerling se punte 'n faktor wat te alle koste vermy moet word.

      3. Voeg by die bogenoemde pakkie die reservering van sekere kwotas in fakulteite en koshuise vir "voorheen benadeeldes" en 'n versekerde plek raak nog meer riskant.

      4. Die IEB maak geen aanpassings aan punte nie. Die instelling is 'n onafhanklike eksamenliggaam en bogenoemde is hoegenaamd nie onderhandelbaar nie. Die IEB, by name Mev. Nel, het vir ons die onderneming gegee dat hulle alle moontlike hulp aan ons beskikbaar sal stel om ons personeel en leerlinge nog beter voor te berei op eksamens.

      5. Vir u inligting 'n stukkie interessante statistiek: Die UCT, nommer 1 universiteit in die RSA (lees maar Finansies en Tegniek) se gegradueerdes van 2009 was 25% IEB leerlinge, met 'n uitvalsyfer van ongeveer 2% spreek dit vir hulself.

      6. Geen uitsonderings word deur universiteite gemaak vir IEB leerlinge nie.

    Die realiteit vir die Namibiese leerlinge is baie, baie harde werk. Ons is totaal uitgelewer aan 'n sisteem wat ons geen beheer oor het nie of ons dit wil weet of nie. Verdere studie word 'n al groter voorreg en vir al minder beskore.

  • Wenke aan voornemende (studente) ouers:

      1. Maak asseblief alreeds erns met u kind se graad 9 aanlegtoetse. Dit is waar die hele proses begin. Wees betrokke, doen self moeite en weet dat die skool se toetsing 100% op standaard is. Mev Van Zyl is opgelei in die veld en beskik oor inligting met betrekking tot loopbane en instansies wat u verder behulpsaam kan wees. Laat u asseblief lei deur realisties te kyk na:

      a) die toetse se resultate
      b) u kind se vermoëns en
      c) u kind se prestasies in veral 'n vak soos wiskunde.

      2. Besef dat dit baie moeilik raak vir u kind om later in sy grade vakke te wil verander. 'n Vak soos bv. Aardrykskunde is van graad 8 af 'n sillabus-eenheid wat in graad 12 geëksamineer word. Dus kan werk nie ingehaal of herhaal word in graad 12 nie. Daar is bloot nie tyd daarvoor nie.

      3. Staan u kind by en neem ingeligte en deurdagte besluite, veral rondom vakkeuses. Verkeerde vakke beïnvloed 'n leerling se M-telling in so 'n mate dat dit sy loopbaankeuse beperk. Alle hulp is beskikbaar.

2. Van die Skool se kant af:

Die sporttoere het seepglad verloop en ons het sommer breë-bors terug arriveer op eie bodem.

Die 0/13B netbalspan het die trofee vir Sportmangees ingepalm op Riebeek-Kasteel. Rochelle Beyleveld, Joleen le Roux, Shearita van der Merwe, Steyn Fourie en Jandrè Augustyn is in hulle onderskeie spanne gekies om Desember in Engeland teen die rooinekke te gaan meeding, Juf. Carina is gekies as die afrigter van die 0/16 Netbalspan. Baie geluk aan julle almal!!

3. Die Frankie Fredericks Atletiek Byeenkoms is die naweek en 'n heel paar elnataners gaan ons daar verteenwoordig. Hulle is: Rochelle Beyleveld, Joleen le Roux, Shearita van der Merwe, Sunette van Schalkwyk, Esmonè van der Heever, Izaan van Schalkwyk, Hanneke v/d Wath, Riekert van der Merwe, Andries Greef en Wayne Blaauw.

Joleen le Roux en Hanneke v/d Wath is dan ook gekies vir die COSSASA span wat later in Botswana gaan meeding. Baie geluk en sterkte aan julle.

4. Daar was ook gister 0/13 Rugbyproewe en die volgende seuns is opgeneem in die Hardap-streekspan: Micheal Pekalski, Wihan von Wielligh, Danco v/d Merwe, Jan-Hendrik Augustyn, Dalla Joubert, Marius van Niekerk, Louis Meyer en Danco Burger. Baie geluk ook aan julle.

5. Die direksielede van Gobabis, Aranos, Stampriet en Windhoek se termyn is alweer op 'n einde en ons vra ouers van hierdie groepe om tog die aangehegte strokie in te vul vir nominasies. Kliek hier om die nominasie-strokie oop te maak.

Die nuwe lede word op die ouervergadering van 26 Mei verkies. Ons wil dan ook dankie sê vir die uittredende lede vir die diens wat julle gelewer het. Ek dink nie almal besef altyd watter groot opoffering dit is nie. Weereens baie dankie.

6. WEN N$500 IN SLAGSPREEK KOMPETISIE Ons weet Elnatan in ʼn goeie Christelike, Afrikaanse en gedissiplineerde skool met skitterende (gemanierde, kompeterende) kinders wat in 'n veilige plattelandse omgewing 'n internasionale matriek sertifikaat behaal.

Ons wil graag almal uitnooi om in die kompetisie deel te neem wat einde Junie 2010 sluit. Kies 'n slagspreuk wat Elnatan se wese uitspreek. Stuur asseblief alle inskrywings na Abie van Wyk 0812455221, Faks 260105, Mail: abie@elnatan.com

7. Die "Namibian Cricket School of Excellence" bied van die 7de tot 10de Mei 'n krieketkamp te Blumvelde aan vir 0/11 – 0/15. Meer inligting en inskrywingsvorms is aangeheg. Kliek hier om die inskrywingsvorms oop te maak.

8. Ons vra tog dat ouers ook alle tandarts- en doktersafsprake nou vroegtydig vir die vakansie maak. U weet mos dat as u te lank wag is alle afsprake tydens die lang vakansie reeds geboek, en dan is die laaste twee dae van skool gewoonlik al wanneer die onderskeie artse plek in hulle besige skedules het. Bespreek dus asseblief nou, want ons soek almal tot op die laaste dag agter die skoolbanke.

9. As u dalk u spens wil volmaak vir die komende vakansie, Me Rita Voigt se koeksisters is net die ding. Kyk maar na die manspersoneel se kondisie as u wil weet hoe dit smaak. Kontak haar by 0813989422 vir bestellings.

10. Ons sê ook dankie aan Klei-pot koffiewinkel wat hierdie week se omsendbrief borg. Sien ook hulle volledige advertensie aangeheg.

Niks is eintlik moeilik as jy die taak in klein porsies opdeel nie
- Henry Ford

Groetnis,

Thinus Botma



Back to Back Issues Page