Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 11, 2010
July 24, 2010


  • Kliek hier om hierdie Nuusbrief op ons webwerf te gaan lees!


Geagte Ouers

Ons gee graag vir u die volgende deur:

Die Direksie het op 12 Julie 2010, 'n vergadering gehou en wil graag die volgende sake onder u aandag bring.

  • Die direksie is weer voltallig. Mnr. Jannie Augustyn is as direksielid van die Windhoekgroep verkies en het reeds sy eerste vergadering bygewoon. Ons wil vir hom baie dankie sê vir sy betrokkenheid en beskikbaarheid. Mev. Elize Cilliers is ook weer vir Maltahohe op die direksie verkies.
  • Die skool ontvang soms versoeke vanaf instansies om hulle produkte aan die ouers van die skool bekend te stel en te bemark. Die direksie het besluit dit sal tydens ouervergaderings kan geskied as die instansie N$ 500.00 betaal. Dan sal daar ʼn spreukbeurt van 10 minute aan sodanige persoon beskikbaar gestel word.
  • Ten einde die werklas te versprei en om meer ouers betrokke te kry by sake wat die skool raak, het die direksie besluit om van komitees gebruik te maak waarop direksielede, ouers en onderwysers sal dien. Ons doen 'n beroep op u om uself beskikbaar te stel en ook self aan te meld as u van 'n werksveld te wete kom waar u voel u wel 'n bydrae kan of wil lewer. Die verwagting is dat die komitee alle sake rondom die werksveld sal ondersoek en dan die direksie met voorstelle bedien. Die komitees sal meestal hulle eie sameroeper kies, behalwe as iemand spesifiek deur die direksie aangewys is. Sommige komitees sal net 'n spesifieke saak aanspreek en dan ontbind, terwyl ander meer permanent van aard sal wees.
  • Die eerste so 'n komitee wat tot stand gekom het is 'n SKOOLKLEREkomitee. Me. Elize Cilliers is die direksieverteenwoordiger, me. Henriëtte Pieterse, Marie Esterhuizen, Elize van Niekerk en Annelie Liebenberg is die onderwysers en me. Anette Kok is as Carducci bestuurder betrokke. Elke ouergroep moet nog 'n verteenwoordiger aanwys op die komitee.
  • Gedenknaaldkomitee – Me. Elize Cilliers (sameroeper en direksieverteenwoordiger), Mnre. Tinus Botma, Smit Kotze, me. Elaine Bindeman, Rita van Vuuren en Mariaan Lochner.
  • Statute komitee - Mnre. Danie Kotzé, Deon van Vuuren, Awie Steenkamp, Soon le Roux, Koos Boltman, S.C. Garbers, Justus Muller en me. Elfie Moolman.
  • Stampriet skou betrokkenheid – Die onderwysers het verlede jaar die verantwoordelikheid geneem om kos by die skou te voorsien en het die wins aan die skool geskenk. Hulle het reeds die skool aan die begin van die jaar weer daartoe verbind. Die omvang is hierdie jaar egter groter en is nie in die vakansie soos verlede jaar nie. Dit bring mee dat die onderwysers dus nie verantwoordelikheid vir die etes daar kan aanvaar nie, want dit gaan inmeng met skooltyd. Aangesien ons die fondse nodig het om ons begroting te laat klop is die ouergroepe ingedeel om sekere etes daar aan te bied. Ons versoek u baie dringend om asseblief die aksie te ondersteun.
  • Die direksie het met groot dank kennis geneem van 'n toevalling van N$20 000 uit die boedel van Mnr. A.C. van Wyk aan Elnatan Privaatskool. Ons het reeds die familie via die eksekuteurs van die boedel bedank, maar wil ook by wyse van die skrywe erkenning daaraan gee. Die gedagte is om die geld by die beursfonds van Elnatan te plaas. Graag wil ons dan ook elke ouer en ondersteuner van Elnatan bewus maak van sodanige geleentheid om self sodanige skenkings te oorweeg wat op 'n wyer front kan bydra tot die voortsetting van gehalte privaatskool onderrig op 'n christelike grondslag, aangesien die fondse aangewend word om onderwysstudente te laat studeer.
  • Skaapprojek – Soos almal weet het ouers en ondersteuners lank tevore 212 ooie geskenk wat 'n inkomste vir die skool genereer. Die persoon wat tans die skape het, se plaas word verkoop en ons MOET DRINGEND 'n ander loopplek en bestuurder daarvoor kry. Ons het reeds een persoon wat aangebied het om die skaap oor te neem, maar die direksie het besluit om by wyse van die omsendbrief elke ouer kans te gee om aansoek te doen om die skaap namens Elnatan te bestuur. Die voorwaardes kan u by Mnr. Danie Kotzé kry (063 -272391 of danmar@mweb.com.na). Hierdie inkomste word vir die beursfonds gebruik.
  • Mev. Vogt (Assistent Matrone ) het 'n ander aanbod gekry en ons verlaat. Ons wil haar sterkte toewens met haar nuwe werk en haar ook bedank vir die tyd wat sy by ons werksaam was. Mev. Sarie Kruger help tydelik uit en ons wil ook die geleentheid gebruik om ons dankbaarheid daaroor uit te spreek. Die pos is egter vakant en ons gebruik dan ook die omsendbrief om dit tussen ons ouers te adverteer. As u van 'n persoon weet wat sou belangstel kan u hulle inlig. Mnr. Tinus Botma kan gekontak word vir verdere inligting aangaande die pos. Belangstellendes kan intussen hulle CV’s by die skoolkantoor inhandig. Indien ons nie genoegsame aansoeke inkry nie, sal ons die pos ook wyer adverteer.
  • Die wynveiling gaan wel nog plaasvind, maar die datum het verander na 4 November 2010. Dit is ook vir ons 'n baie belangrike geleentheid wat 'n groot bydrae lewer om ons jaarlikse begroting te laat klop.
  • Die skool het jaarliks die graad 9 leerlinge die geleentheid gegee om psigometriese (aanleg) toetse af te lê ten einde meer duidelikheid te kry in terme van beroepsvelde waarin hulle belangstel om vakkeuses te doen vir die res van hulle skoolloopbaan, wat hierdie beroepsveld sal ondersteun. Daar is persone wat dit by die skool sal kom doen as daar genoegsame belangstelling is en ander wat dit op ʼn individuele basis sal aanbied. Die verskillende opsies word in die omsendbrief uiteengesit. Die direksie wil egter die belangrikheid van die toetse vir elke kind onderstreep en wil die ouers aanmoedig om dit wel te laat doen.
  • Dit is met groot dankbaarheid dat ons kennis geneem het dat daar elke week twee gebedsgeleenthede in die skool is waar daar spesifiek vir die skool en alle aktiwiteite gebid word. Die onderwysers is by een geleentheid betrokke en die predikante van Stampriet het ook so 'n geleentheid in die Elnatan Raadsaal. Dit is fantasties om Mnre. Smit Kotze, Justus Muller, Di. Gerhard Liebenberg, Martinus Snyman en Herman Kok te kry waar hulle saam aanbid. Ons weet ook dat baie ouers daagliks vir die skool intree in gebed, en wil dit ook op u hart druk om getrou aan ons skool se Christelike karakter, so voort te gaan en gebedsgroepe/kettings te ondersteun.

Van die skool se kant af:

1. Alle ouers wat eiendom in Stampriet besit, en graag 'n "prepaid" meter vir NamPower-krag wil laat installeer, moet Donderdag die 29ste Julie om 18h00 by die skool wees. NamPower kom ons besoek om te bepaal wat die behoefte hieraan is. Indien u belangstel, maar nie die vergadering kan bywoon nie, kan u net u versoek op skrif sit en dit na Tinus of Liesbeth toe stuur.

2. Soos die meeste van u al weet neem Strydom v/d Wath die week aan die Junior Wêreld Atletiek Kampioenskappe deel. Ons wil hom baie sterkte toewens en bedank vir die goeie ambassadeur wat hy vir die skool is.

3. Die eksamen begin volgende week, so vra maar die kinders asseblief dat die boektassies saamgaan huis toe die naweek.

4. Ons ondervind die laaste tyd al meer en meer probleme oor ʼn saak wat ons baie na aan die hart lê. Die skool benodig dringend branders vir sanitêre doekies by die meisiekoshuise. Die koste van hierdie 'n branders beloop in die omgewing van N$50 000 per brander. Indien daar enige iemand is wat 'n bydrae wil maak in hierdie verband, kontak tog vir Me. Henriëtte Pieterse.

5. Terwyl ons nou bakhand staan wil ons tog hoor of daar iemand is wat ou telefoonpale het, of enige ander skenking wil maak sodat ons die speelpark by Huis Marie kan voltooi. Kontak vir Tinus in hierdie verband.

6. Ons wil die volgende inligting t.o.v. psigometriese (aanleg) toetse vir Graad 9 aan u deurgee:

  • Marisa van Zyl (plaaslik) doen beroepstoetsing m.b.t. vakkeuses / beroepskeuses. Koste is N$ 400 per leerling. Kontak haar by 0811284052 of 063 – 260410.
  • Sulette Rousseau (Windhoek) doen groepstoets evaluasie – sluit in skolastiese/ intellektuele aanlegte en belangstellingvelde. Koste is N$ 220 per leerling. Kontak haar by 061 – 228112 of faks 061 – 228111.
  • Jona v/d Merwe (Windhoek) doen breinprofiel saam met Neuronamiese – m.a.w. persoonlikheidsontleding, vakkeuses, beroepskeuses en leerstrategie. Koste is N$ 500 per leerling – let wel daar moet ten minste 30 kinders wees. Kontak haar by 061 – 400424 of 0811284052 of faks 061 – 400425.

Hoop u het 'n heerlike naweek.

Thinus Botma



Back to Back Issues Page