Back to Back Issues Page |
![]() |
Elnatan Nuus, Nr. 12, 2009 July 03, 2009 |
Geagte Ouers
Dit is weer tyd om vir u die goeie en die slegte nuus te bring. Ons hoop die goeie nuus is oorweldigend. Wat vir een goeie nuus is, is vir die ander dalk slegte nuus. Maar kom ons probeer vir die goeie nuus: 1. Baie geluk aan Elsabe de Klerk en Carita Moolman wat verlede naweek onderskeidelik in die O/17 en O/15 Namibiese Netbalspanne opgeneem is. Hulle was reeds die week weg om in Suid-Afrika aan toernooie deel te neem. Ons glo hulle het dit baie geniet en baie ondervinding opgedoen. Ons is trots op hulle.
2. Tydens ons Laerskool Sportdag was 'n groot klomp ouers van die Mariental- en Stampriet-groep by die verkopings betrokke. Baie dankie aan elke ouer wat gehelp het om 'n reuse sukses van die dag te maak. Die pragtige bedrag van N$20395.00 is tydens die geleentheid ingesamel.
3. Die vier jagpakkette wat opgeveil was tydens die Paarl Boys High veiling het vir die skool ook 'n ekstra N$25000.00 in die sak gebring, nadat hulle gedeelte reeds afgetrek was. Weereens baie dankie aan ouers wat die pakkette geskenk het.
4. Die aand van 19 Augustus 2009 vind ons jaarlikse wynveiling plaas. Dit was verlede jaar 'n baie groot sukses, en mense wat dit nie bygewoon het nie was agterna baie spyt. Moet dit nie hierdie jaar misloop nie. Dit beloof om nog groter en meer interessant te wees. Ons beplan dan ook om volgende week spanfoto's te neem van alle sportspanne in die skool wat elk op 'n groot wynbottel se etiket sal verskyn. Ouers word versoek om asb toe te sien dat kinders se sportdrag volgende week by die skool is. Kliek hier vir meer inligting oor die wynveiling!
5. Childline verkoop, soos in die verlede, suigstokkies teen N$3.00 en N$6.00 om fondse in te samel vir mense in nood. Ondersteun asb hierdie projek. Kinders kan reeds Maandag die geld by hul registerklasse inbetaal.
6. Dit blyk dat alle ouers nie die omsendbriewe lees nie, daarom word die volgende twee besluite van die Direksie weer uitgelig. Dit kan baie slegte gevolge vir u hê as u nie ernstig hiervan kennis neem nie.
7. Daar was die afgelope week ook 'n navraag oor hoekom ouers vir Meimaand skoolgeld moet betaal, dit is dan vakansie. Die antwoord is baie eenvoudig. Personeel moet elke maand betaal word. Niemand gaan bereid wees om drie maande salaris te kry en die volgende maand nie.
8. Die Kalkplato Boerevereniging hou op 11 Julie 'n potjiekoskompetisie. Almal word hartlik uitgenooi om in te skryf vir die kompetisie. Lekker vet kontantpryse is te wen. Skakel Me Marie Liebenberg by 063-252403 as u die dag wil bywoon of inskryf.
9. Komende naweek is weer 'n swetterjoel bedrywighede dwarsoor die land. Ek wil nie eers probeer om alles op te noem nie. Ek hoop maar elke ouer weet watter rigting. Klink my party moet hulle in drie skeur. Maar baie sterkte aan die kinders sowel as die ouers. Ekself beman die Elnatan bemarking stalletjie by die Biltongfees in Windhoek. As u daar is, kom maak gerus 'n draai by ons stalletjie. Baie dankie ook aan voorslag personeel wat 'n pragtige stalletjie tot stand gebring het.
10. Op Vrydag, 17 Julie, vind ons eerste Graad 1-dag plaas. Ouers wat nog nie uitnodigings vir die dag gekry het nie moet asb met Juf Annelie in verbinding tree. As u ook weet van voornemende ouers sal ons dit baie waardeer as u die name ook aan Juf Annelie deurgee.
11. Die FNB Classics wat op 18 Julie in Windhoek plaasvind sal net vir die O/19A rugby en O/19A netbal wees. Die O/14 rugby speel dieselde naweek 'n ligawedstryd in Windhoek en sal uit die aard van die saak ook moet gaan. Na lang oorwegings het ons net gevoel die kostes raak eenvoudig te veel en daardie spesifieke naweek is ook een van min uitnaweke vir die termyn, en dus die enigste geleentheid vir van ons kinders om 'n slag huistoe te gaan. Daarom gee ons al die ander spanne 'n ruskans. 12. Die hoërskool eksamen begin reeds op 30 Julie, vroeër as wat op die program aangedui word.
Dis 'n warboel van bedrywighede, ons weet nie of ons kom en of ons gaan nie, geld vloei meer as enigiets anders. Ja, dit is maar moeilike tye, maar kom ons gaan aan en doen elke dag wat die hand vind om te doen sonder om opstandig te word.
Ds Solly sê: "Ons trane gaan nooit ongesiens by Jesus verby nie. Hy gee ons krag om met waardigheid onder ons kruis in te buk. Dan sien ons ‘n reënboog selfs deur ons trane heen."
Groetnis,
Dawie O'Callaghan
![]() |
Back to Back Issues Page |