Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 15, 2009
August 13, 2009


Kliek hier om hierdie Nuusbrief op ons webwerf te gaan lees!

Kyk na ons Prestasies 2009-blad


Geagte Ouers

Dit is ons laaste skrywe van die termyn, en bevat dus 'n klomp belangrike inligting wat onder die aandag van al ons ouers moet kom. Ons vertrou dus dat ons kinders dit by elke huis sal besorg:

1. Mnr Tinus vra weereens namens die personeel van Huis Cora verskoning vir die telefoonhokkie wat nog steeds buite werking is. Die hokkie word weekliks aan Telecom rapporteer, maar hul verskoning is dat daar 'n sekere onderdeel is wat hul nie in die hande kan kry om die telefoon te herstel nie. Dieselfde geld vir die hokkie by Huis Marie. Telecom sê dat daar geen oop lyne op Stampriet is nie, en dat ons verbruik ook nie 'n ekstra hokkie regverdig nie. Dit beteken dat ons nie in die nabye toekoms 'n hokkie vir Huis Marie kan kry nie.

2. Die personeel van Huis Cora het ook baie probleme met ouers wat buite beltye met kinders oor selfone praat, en daarom gee ons vir u weer die beltye deur. In die winter is dit tussen 14:00 en 17:00, en weer vanaf 17:30 tot 18:00. In die somer is dit van 14:30 tot 18:00, en van 18:30 tot 19:00. Ons versoek u tog maar om asb binne die tye te bly, anders ontwrig u programme heeltemal.

3. Ons is weer by selfone. Kinders het gedurende die eksamen weer erg misbruik gemaak van selfone deur laat in die nag nog te "mixit". Die Direksie het besluit dat personeel alle selfone wat kameras of internet het moet afvat tot die einde van die jaar. Om redelik te wees sal ons kinders nog tot na die vakansie geleentheid gee om die regte selfone te kry, maar daarna sal selfone eenvoudig afgevat word tot die einde van die jaar.

4. Leerlinge van Huis Cora word weereens versoek om nie kosblikke gedurende die week in kamers te hou nie. Kosblikke moet gesluit wees, en in die koskamer gehou word. Elke dag is daar geleentheid om kos te gaan uithaal.

5. 'n Ander probleem wat die afgelope tyd hoofbrekens besorg, is klere wat nie gemerk is nie. Klere wat nie gemerk is nie word eenvoudig nooit deur kinders afgehaal wanneer dit iewers verlore geraak het nie. Dit is dan ook vir ons onmoontlik om die eienaars te vind.

6. Weereens 'n baie ernstige versoek dat ouers asb skriftelik kennis moet gee as kinders gedurende die week mag uitgaan vir partytjies of watter ander redes ookal.

7. Die rugbyfinale vir O/11, O/12 en O/13 wat verlede naweek gekanselleer is as gevolg van die gevaar van die H1N1 virus, is finaal afgestel, en slegs die eerste en tweede plekke is vir onderskeidelik die Mariental- en Rehoboth-sone bepaal. Vir O/11 is Elnatan eerste en Sonop tweede, O/12 is Elnatan eerste en Danie Joubert tweede en O/13 is Elnatan eerste en Danie Joubert tweede. Dit is jammer dat die finale nie kan plaasvind nie, maar ons voel dat die gesondheid van ons kinders eerste kom. Baie geluk egter aan al drie Elnatan spanne wat in die eerste plek geeïndig het. Pragtige prestasies is deur die jaar deur die spanne behaal, en skitterende ontwikkeling is vir die sportsoort gedoen.

8. Vanaf 30 Oktober tot 1 November vind die jaarlikse Toerisme toer vir Graad 8 plaas. Hierdie jaar is dit na die Kalagadi Transfrontier Park. Verdere inligting en kostes sal later deurgegee word.

9. Tydens 'n krieketvergadering met ouers is die volgende besluite geneem:

  • Die skool gaan spanne inskryf in die skole-liga vir O/11, O/13, O/15 en O/19. Die O/19's gaan ook in die senior eerste liga speel.
  • Nog twee stelle krieketnette gaan opgerig word. Een vir seniors en een vir tjokkers. Nege ou boorgatpype word nog benodig vir die laaste nette. Ouers wat hiermee kan help moet asb met Mnr Abie van Wyk kontak. Baie dankie ook aan Me Densia Louw wat 'n astronomiese finansiële bydrae tot die oprigting van hierdie nette maak.
  • Kinders en ouers gaan gedurende die September vakansie opgelei word as skeidsregters en tellinghouers. Ouers wat belangstel kan met die skool skakel.
  • In die verband word daar dringend gesoek na ouers wat kan help met die afrigting van tjokker tot O/13 krieket. Mnr Kokkie en Abie sal O/15 tot O/19 hanteer.
  • Die O/15's gaan gedurende die vakansie aan die Hollard-toernooi in Windhoek deelneem. Mnr Callie du Plessis is aangestel as bestuurder van die span. Ons sê vir hom baie dankie en wens hulle alle voorspoed toe.

10. Die Graad 10 tot 12 landbouleerlinge woon vanaf 6 tot 9 September die beeskursus by op die plaas van Dr Hannes Human. Kostes vir die geleentheid beloop N$70.00, en kinders moet eie sakgeld en beddegoed vat.

11. Gerhard Kuhn, Jaco Beukes en Esmone van den Heever het die Boerbok Beoordelingskursus suksesvol voltooi, en is toe gevra om op te tree as 'ringmasters' by die Stampriet skou. Baie geluk, ons hoop hulle gaan dit baie geniet.

12. Ons wil ook graag vir Mnre Danie de Lange en Jaco Labuschagne van Voermeester bedank vir die groot borg van hoendervoer vir die volgende tien maande. Dit beloop sestig sakke. Dis 'n pragtige bydrae tot ons skool.

13. Volgende Vrydag om 09h00 sal daar 'n vergadering wees vir alle laerskoolouers wat aangedui het dat hul kinders graag sal wil hokkie speel. Dr Hannes Human gaan tydens die geleentheid terugvoering gee insake die vraelyste wat uitgestuur was.

14. Alle Skouspel kaartjies wat teen Maandag nog nie verkoop is nie, moet dan ingehandig word. Ouers het dus nog tyd tot Maandag om kaartjies te koop om in aanmerking te kom vir die prys om na die Huisgenoot Skouspel te gaan.

15. Ons wil baie geluk sê aan ses van ons hoërskool onderwysers wat deur die IEB gekeur is om aan die einde van die jaar as merkers vir Graad 12 in Johannesburg op te tree. Ons is baie trots op Juf Marie, Mnr Boela, Mnr Kokkie, Juf Elize, Mnr Billy en Juf Marietjie. Alle onderwysers uit Namibië kom bykans uit ons skool. Voorwaar 'n prestasie om op trots te wees.

16. Die skool hanteer alle etes tydens die Stampriet skou. Ons is egter totaal afhanklik van ons ouers vir bestanddele asook om ons te help werk. In die verband wil ons baie dankie sê aan die Mariental ouergroep wat reeds nege ouerpare beskikbaar gestel het om te help werk. Skakel asb met u Direksielid as u enige bydrae kan lewer.

17. Die buitelugskool vir Graad 9 en 11 is gefinaliseer en vind onderskeidelik plaas vanaf 18 tot 20 September (graad 9) en van 22 tot 24 September vir graad 11. Die graad 11 kamp sal fokus op leierskapontwikkeling, terwyl die graad 9 kamp leerlinge sal help om hulself te ontdek. Kostes beloop N$400.00 per leerling en die kamp word iewers in die onbekende in die Namib aangebied. Vyf persone van die Camp David-groep uit Suid-Afrika bied die kampe aan. Dit beloof om werklik 'n ondervinding van 'n leeftyd te wees. Ons wil dit graag verpligtend maak vir elkeen van hierdie leerlinge. Gelde kan reeds met skoolopening inbetaal word.

18. U word weereens baie ernstig versoek om asb u rekeningnommer aan te dui op u inbetaling wanneer u direk skoolgeld in die bank inbetaal. Ons hou daagliks rekeninge op datum, en dit maak die admin baie moeilik as ons nie dadelik 'n inbetaling kan opspoor nie.

19. Ons wil baie graag ons eetsale bietjie meer aantreklik maak vir ons kinders. Daar is 'n baie groot behoefte vir gordyne in beide eetsale. Die somer is oppad, en dan is dit baie ongemaklik sonder gordyne. Ons sal ook graag tafeldoeke, mooi eetgerei, ens wil inbring. Enigiemand wat bereid is om te help met hierdie projek moet asb met my kom gesels. Ek sal dit baie waardeer.

20. Volgende Donderdagaand vind ons wynveiling plaas. Aangesien daar enkele ouers is wat nie die veiling kan bywoon nie, heg ons die hele lys met alle lotte aan. Daar is 'n kolom waarin u reeds 'n vooraf bod kan doen, veral vir die bottels waarop die sportspanne van die skool is. Daar is geweldige belangstelling vir hierdie bottels, en ons wil graag 'n ieder en elk die geleentheid gee om te bie op die bottel waarop sy kind se span is.
Kliek hier om die Wynveiling Katalogus 2009 af te laai.

Vooraf-aanbiedinge moet myself bereik voor of op Donderdag, 20 Augustus, om 12:00. Dit kan per e-pos of faks gedoen word. Ons kan slegs 180 persone vir die veiling akkomodeer. Daar is nog net 30 kaartjies beskikbaar, met nog baie navrae. Indien u van 'n plek verseker wil wees moet u dadelik met Cora skakel om u plek te bespreek.

21. Geen kinders sal volgende Donderdagaand toegelaat word om huistoe te gaan nie. Dit is 'n baie duidelike opdrag van die Direksie. Vrydagoggend sluit die skool om 10:00 vir alle leerlinge. Dan sal alle leerlinge ook rapporte ontvang. Ouers moet dit asb nie moeilik maak om vooraf kinders te probeer afvra nie. Ek kan u nie toestemming gee nie. Vrydagoggend sal ons ook nog 'n motiveringsgeleentheid hê vir ons spanne wat Saterdag in die finale speel, en wil graag die hele skool by die geleentheid betrek.

22. Op 'n spesiale Direksievergadering gehou op 10 Augustus is Me Rita Vogt aangestel as junior matrone in die plek van Me Rosa Strydom wat bedank het. Baie dankie aan Tannie Rosa vir uitstekende diens wat sy gelewer het, en baie welkom aan Rita by die Elnatan-span.

23. Dit bring ons by die laaste, maar die lekkerste. Ons wil weer baie geluk sê aan Strydom van der Wath wat tydens die Junior Wêreldkampioenskappe in Mauritius 'n silwer medalje in spiesgooi verower het. Slegs drie Namibiese atlete het daar deelgeneem, en dit bring mee dat Strydom se naam onder die bestes in wêreldatletiek genoem word. Ek sê maar weer, jy hoef nie op ander plekke te wees om te presteer nie. Met "guts" is Strampiet ook groot genoeg. Strydom, ons is baie trots op jou.

24. Verlede naweek was dit die kwartfinale vir wintersport. Ons twee hokkiespanne moes egter die knie buig teen onderskeidelik WHS en St Pauls, maar het hulle skitterend van hul taak gekwyt. Welgedaan met 'n pragtige seisoen.

25. Al drie rugbyspanne het egter deurgedring na die semi-finale wat die naweek in Windhoek beslis word. Die O/14-span speel Saterdag om 8:00 teen Windhoek Gimnasium, die O/19B teen Grootfontein 1 om 13:40 en die O/19A om 17:10 teen Windhoek Gimnasium. Al die wedstryde vind op die Nasionale Rugby stadion plaas. As dit enigsins binne u vermoë is, wil ons vra dat u asb hierdie spanne sal kom ondersteun. Kom ons dra hierdie spanne deur die semi's sodat ons volgende Saterdag weer bankvas in Windhoek kan sit om groot opskuddings te veroorsaak, of hoe sê hulle... "om die riete te laat roer".

26. En nou vir die grootste! Vir die eerste keer in die geskiedenis van die skool het ons 'n netbalspan wat die Namibiese Kampioene is nadat ons O/17 netbalspan verlede Saterdag, na 'n titaniese stryd, vir WHS in die finaal met een doel geklop het.

Hierdie span speel al vir die afgelope drie jaar skitterende netbal, en verlede Saterdag is al hierdie jare se harde werk beloon toe hulle daardie pragtige goue trofee ontvang het. Hulle is 'n pragtige voorbeeld van vasbyt en "guts", en daarom wil ons vir Juf Carina en haar span baie geluk sê met 'n uitmuntende seisoen en 'n finaal soos nog min in hierdie land gesien. Hierdie span gaan dan ook volgende Donderdagaand tydens die wynveiling as spesiale eregaste teenwoordig wees en aan alle gaste voorgestel word. Julle het ons baie, baie trots gemaak. Baie, baie geluk. Mag ons na volgende naweek nog sulke kampioene hê!

Ons is aan die einde van ons eksamen, ons sportseisoen is by die finale, en daar word geoefen vir die Palmklop Kunstefees. Sulke tye kan ons so maklik op onsself begin staatmaak. Kom ons wees baie dankbaar vir al hierdie wonderlike dinge wat gebeur, en al die prestasies wat ons behaal.

Joh 3 : 27 sê:

"Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie."

Ds Solly sê: "Hoe belangrik of nederig ons taak ook mag wees, God maak jou bekwaam as jy net toegewyd wil wees, en uitdrukking wil gee aan Sy wil".

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page