Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr. 16, 2009
September 18, 2009


Kliek hier om hierdie Nuusbrief op ons webwerf te gaan lees!

Kyk na ons Prestasies 2009-blad


Geagte Ouers

Alle aktiwiteite is weer in volle swang na die vakansie en dit is vir ons 'n voorreg om die volgende vir u deur te gee:

1. Die afgelope week het 'n persoon, op uitnodiging van ons Mej Elnatan 2009, Jozanne van Schalkwyk, met ons kinders kom praat oor die vervolging van christene oor die wêreld. Na die tyd het hy kinders uitgenooi om volgende jaar deel te wees van 'n uitreikaksie na Egipte waar hierdie dinge ervaar kan word, maar waar dit ook vir die kinders veilig is. Die kostes vir 14 dae beloop N$15 000.00. Ouers wat belangstel kan my hieroor skakel.

2. Volgende Vrydag, 25 September, om 10:30 vind ons jaarlikse musiek- en balletkonsert plaas. Alle ouers word hartlik uitgenooi om die geleentheid by te woon.

3. Die gastewoonstel is baie mooi reggemaak deur Mnr Boela en sy vrou. Ons sê vir hulle baie dankie en wil alle ouers uitnooi om daarvan gebruik te maak. Daar is slaapplek vir ses mense en die koste beloop N$60.00 per nag per persoon. Daar is 'n yskas, mikrogolf, eetgerei, ketel en beddegoed in die woonstel. Koffie en tee word ook uitgesit. U hoef dus niks saam te bring nie. Bespreek asb die woonstel vroegtydig by Cora.

4. Juf Yanka het my meegedeel dat heelwat Graad 11's nog nie hul N$1 000.00 vir die matriekafskeid inbetaal het nie. U word asb dringend versoek om hierdie gelde voor 5 Oktober in te betaal.

5. Ons tweede en finale Graad 1-dag vind plaas op 23 Oktober en ons Opedag vir alle ander nuwe leerlinge en belangstellendes op Saterdag, 24 Oktober. Alle nuwe graad 1 en ander ouers word hartlik na die geleenthede uitgenooi. Huidige ouers word versoek om asb hierdie uitnodiging aan almal bekend te maak. Die leweransiers van ons skoolklere sal ook op beide datums in Stampriet wees.

6. Op Vrydag, 9 Oktober, vind ons jaarlikse sport- en graad 12-prysuitdeling plaas, sowel as die bekendmaking van 2010 se leerlingraad. In die verband versoek ons alle leerlinge wat verlede jaar 'n wisseltrofee ontvang het, spanne wat medaljes verower het, asook atletiekbekers wat na die huiskompetisie ontvang is, om dit binne die volgende twee weke by Juf Marie in te handig. As jy nie seker is of jy iets moet ingee nie, maak eerder by jou afrigter seker. As medaljes of trofeë nie ingehandig word nie, kan dit nie uitgedeel word nie, en dan het jy net jouself te blameer.

7. Ons wil baie geluk sê aan drie van ons Graad 11 Rekeningkunde leerlinge wat deur die jaar deelgeneem het aan 'n aandelebeurs kompetisie van die Namibia Stock Exchange. Willie Burger, Braam van Niekerk en Johan van Zyl, alias die Auob Boertjies, is na 'n jaar se harde werk aangewys as een van die top vyf spanne in die land en ontvang vanaand, saam met juf Marie, hulle prys in Windhoek. Ons sal almal saam met hulle bly wees as hulle aangewys word as die nommer een. Baie geluk reeds aan hierdie span.

8. Die matrieksertifikate van 2008 het die afgelope week by die skool aangekom, en ouers en leerlinge is welkom om dit af te haal.

9. Inskrywingsvorms vir heraansoeke vir 2010 word hierby aangeheg, waarna u tyd het tot Donderdag, 1 Oktober, om dit terug te stuur skooltoe. Daarna sal die Direksie vergader om aansoeke te keur en sal alle ouers dienooreenkomstig verwittig word. Kinders wie se aansoeke teen 1 Oktober nie by die skool is nie, sal beskou word asof hulle nie volgende jaar terugkom nie. Kom ons maak hierdie 'n saak van groot erns aangesien hierdie inligting broodnodig is om beplanning vir 2010 te doen.
Kliek hier om die Inskrywingsvorms vir 2010 af te laai.

10. Die wynveiling was weereens 'n reuse sukses waar 'n totale bedrag van N$237 400.00 ingesamel was. Die netto inkomste hieruit vir die skool beloop net meer as N$110 000.00, en ons wil graag van die geleentheid gebruik om almal te bedank wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid. Sonder sulke wonderlike ondersteuning sal ons skool nooit kan voortbestaan nie.

11. Baie dankie ook aan alle ouers wat so hard gewerk het tydens die Stampriet Skou. Baie dankie ook aan ouers wat wonderlike skenkings gemaak het sodat ons daarvan net so 'n pragtige sukses kon maak. 'n Spesiale dankie ook aan Juf Marietjie en haar span onderwysers wat elke dag baie hard gewerk het.

12. Woensdagaand het die Namibiese Eistedfod in Tsumeb plaasgevind waar 22 van ons leerlinge deelgeneem het. Ons leerlinge se talente word dwarsdeur die land besing met items wat gelewer was wat punte gekry het van 95%, en dit deur Suid-Afrikaanse beoordelaars. Ons kinders was regtig skitterend, en dit was uit en uit die moeite werd om hulle so ver te neem. Wayne Blaauw is ook deur die beoordelaars genooi om in SA te gaan deelneem. Moet dus onder geen omstandighede die Kunstefees mis nie, want al hierdie items gaan ook daar gelewer word. Ons beleid van gebalanseerde opvoeding oor al die jare is besig om wonderlike dividende te lewer, waarvoor ons baie dankbaar is.

13. Volgende week word bandanas by die skool verkoop ten bate van die Kankervereniging vir N$20.00 elk. Kom ons ondersteun weereens hierdie groot saak met oop hande en beursies.

14. Soos reeds genoem, vind die Palmklop Kunstefees op 1 Oktober plaas vanaf die oggend om 8:00 tot die aand laat. Die program behels kortliks die volgende:

  • 8:00 – Entrepreneurskap stalletjies van die Senior Primêr open
  • 9:00 tot 10:00 – Kinderteater aangebied deur die dramaturg, Karien Viljoen van Tsumeb
  • 11:00 tot 13:00 – Vertoning 1
  • 14:00 tot 15:00 – Eenmanvertoning deur Karien Viljoen
  • 15:30 tot 18:00 – Vertoning 2
  • Vanaf 19:30 - sangvertonings deur ons eie kunstenaars en kunstenaars uit die omgewing

Etes sal deurentyd verskaf word, en vir die aand maak elke ouergroep 'n potjie.

15. Vrydag, 2 Oktober, is 'n vakansiedag vir almal behalwe die onderwysers en matrieks wat dan in Windhoek moet wees. Maandag, 5 Oktober, is ook 'n vakansiedag vir al ons leerlinge. Vir die Kunstefees moet alle leerlinge teenwoordig wees tot die laaste item van die aand wanneer die verskillende koshuise asook dorpsleerlinge ons gaan neem op 'n reis deur Elnatan. Hierdie gaan die hoogtepunt van die dag wees, en ons gaan niemand daar verskoon nie. Daarna kan almal maar huistoe gaan tot die Dinsdagoggend om 7:00.

16. Een van die wêreldkampioene in skaak is bereid om weekliks afrigting by ons skool te kom doen. Aangeheg is 'n strokie wat ingevul moet word indien u wil hê dat u kind skaakafrigting moet kry.
Kliek hier om die aansoek vir skaakafrigting af te laai.

17. Die afgelope week het baie ouers skooltoe gebel om te hoor hoekom direksielede hulle oor skoolfonds bel. Die rede is omdat u teen die sewende van elke maand reeds u skoolfonds vir daardie maand moes betaal het en die direksie op die 14de vergader het en daar toe steeds 'n klomp ouers se skoolfonds vir September uitstaande was. Ouers wie se skoolgeld vir Augustus en September uitstaande is sal vandag 'n brief saam met die kinders ontvang waarin u meegedeel word dat u kinders nie Maandag kan terugkom skooltoe indien u skoolfonds nie betaal is nie. Dit is mos 'n baie duidelike reëling vir die afgelope jare wat nou baie streng toegepas gaan word.

18. Dames wat voorheen AVON gebruik het kan dit nou weer by Me Mien du Plessis kry. Skakel haar asb by 063-272433 of 0812971014 om u boekie te kry of bestelling te plaas.

19. Die Nasionale Junior Jukskei proewe vind plaas op die 9de Oktober in Windhoek en die Coen Brand Interskole Toernooi op 10 Oktober. Mnr Tinus tref alle reëlings vir beide geleenthede, en alle leerlinge wat jukskei wil speel moet sorg dat hulle oefeninge getrou bywoon.

20. Hier is 'n swart Nokia 1202 selfoon by die skool opgetel en dit blyk dat dit nie een van die kinders s'n is nie. As dit moontlik u selfoon is, kan u gerus by die kantoor daarna kom kyk.

21. Op 'n ouervergadering gehou op 7 September 2009 is die volgende sake deurgegee of besluite geneem:

  • Mnr Billy en Juf Ina het uit Huis Hessie dorp toe getrek. Juf Henriëtte doen nou diens in Huis Hessie en Mnr Kokkie in Huis Frikkie.
  • Ek en Cora trek volgende jaar plot toe en sal daagliks in en uit ry.
  • Hulp word van ouers gevra om die eetsale te verfraai.
  • Juf Henriëtte se woonstel in Huis Frikkie word ingerig vir 'n gastewoonstel wat deur ouers gehuur kan word.
  • Elke ouergroep moet 'n potjie vir minstens sestig persone maak vir die aandete tydens die Kunstefees.
  • As gevolg van 'n baie groot graad 1-klas en die moontlikheid van 'n redelike groot graad 2-klas moet 'n ekstra onderwyser aangestel en 'n klas gebou word by Jnr Primer. Daar is ook twee graad 8 klasse in die hoërskool en kort daar ook 'n onderwyser en klaskamer. 'n Voorlopige voorstel is dat elke ouerpaar N$750.00 voor die einde van die jaar inbetaal om die bouwerk kontant te doen.

22. Op 'n spesiale Direksievergadering gehou op Maandag, 14 September 2009, is die volgende besluite geneem:

  • Me Hannelie Burger sal volgende jaar net twee dae per week inkom vir die Hulpsentrum en daarom word Me Linza Kotze genader om te help soos nodig.
  • Dit is nie nodig vir 'n tweede graad 2-klas in 2010 nie aangesien hulle net 23 sal wees. Me Melanie Adriaanse skuif dus op na die 2de Graad 4 klas saam met Juf Tertia. Geen aanstelling of klas is dus meer nodig vir die Jnr Primer nie.
  • Die huidige graad 6 klas sal volgende jaar gedeel word aangesien die klas te groot is. Daar is dus weer 5 klasse in die Snr Primer en die personeel van daardie afdeling bly dus net soos dit nou is.
  • Die graad 8 klas van 2010 moet wel deel, maar Juf Marietjie skuif met al haar Hotelbestuurklasse permanent na die Restaurant; Mnr Johan skuif met sy Wisk en Tegniese Tekene na die ou Hotelbestuurklas; die Lewensoriëntering word alles in die saal gegee, wat meebring dat daar dan 'n klas vir die ekstra graad 8 groep is. Geen klas hoef dus by die hoërskool gebou te word nie.
  • Smit Kotze word aangestel om alle Lewensoriëntering van die hoërskool sowel as Bybel vir graad 8 en 9 in 2010 aan te bied op 'n drie-vyfde pos.
  • Linza Kotze word aangestel om Wiskunde vir beide graad 8 klasse aan te bied asook behulpsaam te wees by die Hulpsentrum op 'n twee-vyfde pos.
  • Me Rina Willers word aangestel om in Huis Cora in 'n woonstel tussen die kleintjies te gaan bly en voltyds net die kleintjies op te pas in die plek van Cora.
  • Alhoewel geen nuwe klaskamers nou gebou hoef te word nie, sal dit wel aan die einde van 2010 gedoen moet word. Daarom besluit die Direksie om wel 'n N$375.00 per ouerpaar te hef vir 2009, betaalbaar voor einde November 2009, en 'n N$375.00 vir 2010, betaalbaar voor einde Augustus 2010. Hierdie gelde sal alles in 'n Boufonds-rekening inbetaal word by FNB, Mariental-tak, Rek nr. 62033758402 in naam van Privaatskool Elnatan. Daar is reeds 'n bedrag van N$27094.29 in hierdie rekening wat oor 'n tydperk van 10 jaar deur oud-ouers en ondersteuners inbetaal is. Lekker verrassing!

    Mnr Mercer Leeb skenk ook 'n bedrag van ongeveer N$40 000.00 aan die skool wat ook in hierdie rekening inbetaal gaan word. Dis natuurlik 'n wonderlike gebaar van iemand met 'n hart vir hierdie skool en die saak. Ons weet nie hoe om vir hom dankie te sê nie, maar Mercer, ons hoop baie, baie dankie beteken vir jou iets, want dit kom uit ons hart. Alle bouwerk en onderhoud sal in die toekoms uit die fonds gedoen word.

  • Vanaf 2010 sal daar geen hulpfonds vir enige kind meer wees nie. Alle ouers sal dus ten volle verantwoordelik wees vir die volle skoolfonds van hul kinders. Projekte wat in 2010 deur ouers of onderwysers geloods word sal ten bate van die skool wees, en dus tot voordeel van almal.
  • Die Direksie keur 'n termynbreuk goed vanaf Vrydag, 26 Maart 2010 tot Dinsdag, 6 April 2010. In hierdie tyd gaan alle sportspanne vir rugby, netbal en hokkie, van o/13 tot O/19, na die Vodacom afrigtingsklinieke in Stellenbosch wat die grootste van sy soort in Afrika is. Ons is ook die enigste Namibiese skool wat soontoe genooi is.
  • Koshuistoesig sal in 2010 as volg wees:

      Huis Cora: Mnr Tinus Botma (Supt); Me Irene Dreyer; Me Marine Binneman; Me Rina Willers (Jnr Matrone)

      Huis Marie: Mnr Abie van Wyk (Supt); Me Annette Mostert; Me Elize van Niekerk

      Huis Hessie: Me Tertia van Wyk (Supt); Me Henriëtte Pieterse; Me Melanie Adriaanse; Me Marietjie Joubert

      Huis Frikkie: Mnr Boela Strydom (Supt); Mnr Johan Adriaanse; Mnr Kokkie Joubert

23. Die kostes van die Vodacom afrigtinsklinieke in Stellenbosch beloop N$1800.00 per speler, wat alles insluit, behalwe sakgeld. Elke span, soos bo genoem, sal intensiewe afrigting ontvang, en sal ook drie wedstryde speel. Ons gee hierdie inligting vroegtydig deur sodat kinders geld kan begin spaar. Dit help nie ons gaan met halwe spanne nie. Ons wil elke speler in hierdie spanne vat. Dit is 'n massiewe projek wat ongeveer 150 leerlinge van die skool sal betrek en sal meebring dat ten minste drie busse moet Kaap toe loop.

24. Baie sterkte aan die Graad 9 en 11-groepe wat van vandag tot volgende Donderdag op die kampe is. Dit is werklik 'n merkwaardige span wat reeds by die kampterrein besig is om alles op te stel, en ons glo dit gaan 'n geleentheid van 'n leeftyd vir ons kinders wees.

25. Aangeheg ook 'n advertensie van BJ Joinery wat die helfte van hierdie omsendbrief saam met Mien du Plessis en Sanlam, Mariental, borg. Ondersteun asb vir BJ Joinery sodat almal 'n broodjie op die tafel kan hê!

Op 'n keer was daar die vraag gevra: "Wie is 'n wyse man?"

En dan kom die antwoord: "Hy wat bereid is om iets van alle mense te leer."

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page