Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr.18, 2009
October 23, 2009



Geagte Ouers

Tyd vir ons gebruiklike omsendbrief en ons gee graag die volgende deur:

1. Volgende Vrydag gaan ons 'n rugbyraai by die skool hou en alle kinders kan ook met gewone klere skooltoe gaan. Om aan die rugbyraai deel te neem en gewone klere aan te trek kos N$10.00. Hierdie is 'n gesamentlike projek van die personeel en nuwe leerlingraad om geld in te samel vir die mediese kostes van een van ons mammas, Me Loutjie Schierschmidt. Sy is lank terug met beenkanker gediagnoseer, en het verlede Saterdag tydens 'n krieketwedstryd by die skool beide bene gebreek. Hulle gaan probeer om in die Kaap vir haar bene te bou, maar die gesin het geen mediese fonds nie en die kostes beloop reeds honderde duisende dollars.

Ons is ook besig om 'n fonds te stig wat deur ons rekenmeesters, Van Schalkwyk en Vennote, bestuur gaan word. Ons kan nog nie vir u 'n bankrekeningnommer gee nie, maar u kan reeds bydraes by die skool kom inbetaal. Kom ons ondersteun hierdie saak met oop harte en hande. Die nood is baie groot hier. Ons het mekaar nodig. Stuur Maandag die N$10.00 plus sommer nog baie ekstra.

2. Ons herinner ook aan die toergeld van kinders wat volgende jaar Maart Kaap toe gaan vir die Vodacom toernooi. Die deposito vir verblyf beloop N$500.00 per leerling en moet voor einde Oktober inbetaal word of ons verloor ons verblyf.

3. As gevolg van 'n gebrek aan Engelse leesboeke in die verskillende grade, wil ons graag ons hoŽrskool-ouers se gevoel in die verband toets. Die gedagte is om elke jaar 'n stel leesboeke per graad, ongeveer 40, aan te koop. Elke leerling betaal sy eie leesboek vir die betrokke jaar, gebruik dit vir die jaar, en skenk dit aan die einde van die jaar vir die skool. Doen ons dit vir twee jaar het ons twee stelle boeke van graad 8 tot 12. So skakel ons derduisende fotostate uit wat 'n duur en tydrowende proses is. Ander voorstelle is ook welkom. Lewer asb u kommentaar op die aangehegte strokie. Kliek hier om die strokie af te laai.

4. Dan is dit ook vir ons 'n wonderlike voorreg om bekend te maak dat Mnr Mercer Leeb die afgelope week N$88 000.00 op die skool se rekening inbetaal het. N$40 000.00 is vir die boufonds, en die res sal hy bepaal waarvoor dit aangewend moet word. Weereens baie, baie dankie vir hierdie ongelooflike gebaar. Die Direksie sal toesien dat hierdie fondse net tot die beste voordeel van ons kinders aangewend word.

5. Baie dankie ook aan alle ouers wat bydraes gelewer het tot ons opedae. Dit word baie waardeer.

6. Namens almal wil ek ook graag ons matrikulante baie sterkte toewens met die eindeksamen wat volgende week begin. Kom ons bid elke dag vir hulle en dra hulle deur hierdie belangrike tyd in hulle lewe.

"Drink diep uit die fontein van lewende water wat Christus jou bied. Dan sal jy nooit in die woestyn van wanhoop en doelloosheid ronddwaal nie."
~ Ds. Solly Ozrovech

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page