Back to Back Issues Page
Elnatan Nuus, Nr.21, 2008
November 07, 2008


Maak seker dat jou e-pos program die foto's in ons nuusbriewe wys ("Allow images"). As daar net kruisies verskyn waar ons foto's geplaas het, moet u nog die verstelling doen.

Geagte Ouers

Dit is tyd vir ons gebruiklike omsendbrief en ons gee graag vir u die volgende deur:

1. Die hele skool is van vandag af besig met die finale eksamen vir die jaar en ons versoek asb ons ouers om te help om die leerlinge positief te motiveer en aan te moedig en wens graag al ons leerlinge baie sterkte toe en ons wens is dat dit met almal baie goed sal gaan.

2. Dit is die eerste omsendbrief wat ook op die skool se webtuiste beskikbaar is. Die vorige keer het ons beloof om die webtuiste vir u deur te gee, en daarom is dit vir my ‘n baie groot voorreg, aangesien dit een van die wonderlike mylpale in die skool se geskiedenis is, om vir u te sê dat u dit kan kry op www.privaatskool-elnatan.com.

Alle inligting rondom die skool is hier beskikbaar en ek wil onomwonde sê dat dit een van die beste webtuistes is wat ek nog van enige skool gesien het. In die verband wil ons baie geluk, en baie dankie sê, aan Me Tienie Duvenhage wat ‘n briljante stuk werk gedoen het, en ook aan elke personeellid wat uit hul pad gegaan het om alle inligting beskikbaar te stel. Ek is ongelooflik trots op dit wat hier bereik is en wil almal aanmoedig om dit daagliks te gaan besoek vir vars nuus in die skool. U kan inskryf vir die omsendbrief deur te gaan na Elnatan NUUS. U sal dan in die toekoms die omsendbrief vanaf die webwerf ontvang.

3. Op 21 November vind die stigting van die Oud-leerlinge en Ondersteunersvereniging van Elnatan (OLOV) om 19:00 in die skoolsaal plaas. Moedig asb alle oud-leerlinge, -ouers en ondersteuners aan om met ons kontak te maak sodat ons hullle na die geleentheid toe kan uitnooi. Die geselligheid gaan in die vorm van ‘n steakbraai wees en ons benodig dringend persone om te help met die braai asook die braaiapparaat. Enigiemand wat kan help moet asb met Me Chrissie Lemmer in verbinding tree by 063- 272458.

4. Oujan Labuschagne soek ‘n geleentheid op 27 November na Swakopmund of Hentiesbaai, of alternatiewelik na Windhoek. As enigiemand kan help sal ek baie bly wees as u my sal skakel by 0813599654.

5. Die projek om randstene om die atletiekbaan aan te bring vorder fluks, maar ons het nog nie genoeg fondse om alle randstene aan te koop nie. Bykans 240 van die 450 is reeds geborg, en daarvoor wil ons baie dankie sê aan elke ouer wat pragtig reageer het. Aan die ouers wat nog nie ‘n bydrae gemaak het nie, wil ons baie mooi vra of u dit nie wil oorweeg nie. Die koste is N$70.00 per randsteen en ons kort nog 210 randstene om die eerste fase te voltooi. Help asb!

6. Soos die gebruik tydens die eksamen begin die skool vanaf Maandag om 7:30 en kom 12:00 uit. Die Mariental-bussie se vertrektye sal dienooreenkomstig aangepas word.

7. Op 27 November, met skoolsluiting, sal Karnic Distributors, ‘n skryfbehoeftehandelaar, op Stampriet wees met skryfbehoeftes soos deur leerlinge benodig vir 2009. Volgende naweek sal kinders ‘n lysie ontvang van skryfbehoeftes en dan kan u daarvolgens bestel. Hierdie is regtig ‘n geldbesparende geleentheid en ons wil ouers aanmoedig om gebruik te maak daarvan.

8. Die 2009 Dagboeke sal met skoolsluiting beskikbaar wees. Daar is net 400 bestel en die koste is N$75.00. Aangeheg is ‘n bestelvorm. Stuur asb u bestelling saam met die geld op Maandag terug. Moet asb nie soos aan die begin van 2008 te laat bestel en dan teleurgestel word deur nie meer ‘n dagboek te kry nie. Hierdie dagboek is, net soos die 2008-weergawe, ‘n pragstuk en werklik ‘n moet vir elke kind en gesin. Niemand kan eintlik sonder so ‘n dagboek wees nie.

9. Tannie Julie sê dat die DVD van die musiekkonsert beskikbaar is, en dat dit bestel kan word teen N$100.00. Sy vra ook dat alle Graad 5 NG Kerk katkisante wat nog nie hul kategese boekies vir die jaar betaal het nie, dit ook asb Maandag moet doen. Dit kos N$35.00.

10. Alle NG Kerk katkisante word herinner dat die jaarlikse prysuitdeling ook Sondagaand om 19:00 tydens die jeugdiens sal plaasvind. Ouers word hartlik uitgenooi na die geleentheid.

11. Me Marianna Botma verkoop Avroy Shlain gesigprodukte. Almal wat belangstel om maandeliks ‘n gratis katalogus te ontvang, kan haar skakel by 081-3180265 of 063-260008.

12. Ons wil graag baie geluk sê aan Jaco, Lourens en Martin Barnard wat opgeneem is in die Namibiese Gymkhana-span en Me Susan Barnard wat as spanbestuurder optree. Hulle ry op 3 Desember teen die Springbokke in Suid-Afrika. Baie sterkte.

13. Hierdie naweek speel ons senior krieketspan ook twee wedstryde in onderskeidelik Otjiwarongo en Outjo. Baie sterkte aan die seuns en baie dankie aan die personeel en ouers wat hulle vergesel.

14. Baie dankie aan alle personeel en ouers wat hard gewerk, en verversings voorsien het, vir die ouerdae op 6 en 7 November. Dit beloof om baie spesiaal te wees en alle insette word opreg waardeer.

15. Tydens ‘n Direksievergadering gehou op 6 November 2008 is die volgende besluite geneem:

  • Daar sal baie versigtig omgegaan word met die ontwikkeling van ‘n volle Landbou-afdeling by die skool. Dit sal slegs gedoen word as leerlinggetalle en fondse dit regverdig.
  • Pneumatix het nie ‘n Jeugwerker beskikbaar om volgende jaar na die skool uit te plaas nie. Dit is vir ons almal ‘n groot teleurstelling, maar ons is nog steeds baie dankbaar vir die hulp wat Pieter en Betta Martins in die verband aangebied het.
  • Die Graad-11 klas van 2009 sal volgende jaar gedeel word betreffende die taalklasse sodat onderrig meer effektief kan plaasvind.
  • Die stigting van ‘n Oudleerlinge en Ondersteunersklub word amptelik goedgekeur.
  • Die finansiële state van 2006 en 2007 word deur die skool se ouditeure, Cecil Kilpin & Co, voorgelê en deur die Direksie goedgekeur. Hierdie state lê in die kantoor ter insae vir enige ouer. U word hartlik uitgenooi om daarna te kom kyk.
  • Me Marietjie Joubert word aangestel in die plek van Me Rhyna Visser vir klasonderrig van Graad 3. Ons sê baie welkom aan Juf Marietjie en ons weet sy is nou weer by die plek waar sy hoort, en baie dankie aan Juf Rhyna vir wonderlike diens wat sy gelewer het aan die skool, en ons wens is dat sy baie gelukkig sal wees daar waar sy nou in Windhoek gaan bly.
  • Tenders word op ‘n jaarbasis toegeken vir 2009 en wel as volg:
      Vleis: Mnr Driek Vermaak
      Melk: Mnr Jan Lepen
      Kruideniersware: OK Grocer, Stampriet
      Groente en vrugte: Mnr Fanie Louw
      Versekering: Securitas deur Hollard
      Viennas en polonies: Ry en Kry Slaghuis, Mariental
  • Die keuring van bestaande, sowel as nuwe leerlinge word hanteer. Dertig Graad 1’s en 45 ander nuwe leerlinge word aanvaar en sewe word afgekeur. Drie van die bestaande leerlinge word afgekeur, wat die getal vir 2009 tans op 439 te staan bring. Die beraming is dat ons volgende jaar op 450 behoort te wees.
  • Die begroting vir 2009 word goedgekeur. Sien die nuwe skooltariewe deur te kliek op hierdie skakel.

    Let asb daarop dat daar nie meer ‘n tarief oor 12 maande is nie. Hierdie besluit is geneem sodat die Direksie kan seker maak dat daar nie, soos in die verlede, afgesluit word met ‘n bedrag agterstallige skoolgelde nie. Alle skoolgelde moet gedurende 2009 ook voor die sewende van elke maand, en nie meer voor die 15de, vooruitbetaal wees vir die betrokke maand.

  • Die meriete beeordeling van alle personeel word hanteer en daarvolgens word bonusse toegeken.
  • Die vakindelings, sowel as buitemuurse werksverdeling van alle personeel, word vir 2009 bespreek en goedgekeur.
  • Die jaarbeplanning vir 2009 word goedgekeur.
  • Daar word goedgekeur dat ‘n ouerkamp, onder leiding van Ds Attie Boshoff, volgende jaar gehou sal word oor verantwoordelike ouerskap. Dit word voorlopig beplan vir die tweede naweek van April.
  • Die Graad 11’s van 2009 word versoek om drasties te snoei aan uitgawes vir die matriekafskeid, sonder om afbreek te doen aan die glans van die geleentheid. Daar moet gekyk word na alternatiewe waarmee kostes baie verlaag kan word. Geen voorskrifte word gegee nie, maar indien nie aan die versoek voldoen word nie, sal die Direksie verplig word om voorskriftelik te raak.
  • Alle advertensieborde op die terrein moet deur die adverteerders vervang word wanner dit nie meer in ‘n goeie toestand is nie, en elke tweede jaar moet ‘n adverteerder N$1000.00 betaal om sy advertensiespasie te behou, behalwe vir die borge van die klein pawiljoene, wat dit elke vyf jaar moet doen. By gebrek aan bogenoemde sal advertensieborde verwyder word en die spasie aan ‘n volgende adverteerder beskikbaar gestel word.
  • Niemand mag enige kind van die skoolgronde neem sonder toestemming van die ouers nie. Dit geld alle aktiwiteite wat nie verband hou met skoolaangeleenthede nie, soos bv vir verjaardagpartytjies. Vir alle skoolaktiwiteite het ouers vrywarings saam met hul aansoek om toelating geteken. Almal word ernstig versoek om asb volle samewerking te gee in die verband.

Hierdie is ‘n mondvol inligting, maar ons vertrou dat u alles sal aanteken en deel maak van 2009.

Groetnis,

Dawie O'Callaghan
Skoolhoof



Back to Back Issues Page