Ek is sielsgelukkig

deur Rudolph du Plessis
(Aranos, Namibië)

Rudolf du Plessis, Privaatskool Elnatan, Namibië

Rudolf du Plessis, Privaatskool Elnatan, Namibië

In die hartjie van die Suide, vind ek God se grootste seën aan my as skolier. Die mooie Namibië is geseënd met een van die wonderlikste plattelandse skole. My groot droom is om hier te matrikuleer. Ek leer in die skool om volwasse op te tree en my man te staan op alle terreine. Die onderwysers is van die beste en uit goeie hout gekap; wie saam met my die pad sal stap totdat ek matriek voltooi het. Ek is uit my nate as ek Maandae by die skoolhek instap en weet dis waar ek wil wees. Dié skool lei my in die rigting waarheen ek wil gaan en maak dat ek uitsien na 'n blink toekoms.

Die o/15-rugbyspan van 2015 gee my hoendervleis as ek daaraan dink. My droom om in 'n finaal te speel het reeds in 2014 plaasgevind toe ek saam met my span die oorwinning gesmaak het met ons sege in Windhoek. Ek is vuur en vlam om hierdie jaar weer rugby te speel en dit gaan 'n hoogtepunt wees om weereens in ʼn rugbyfinaal mee te ding.

My opgewondenheid en joligheid ken geen perke as ek dink aan die sportnaweek vir privaatskole wat voorlê nie. Verseker gaan ons skool die ander mededingers wys dat hierdie instelling nie meer nat agter die ore is nie. Ek beplan reeds hoe ek gaan speel, nogtans besef ek dat die lewe soms onregverdig kan wees, maar in God se oë sal alles verloop soos Hy dit beplan het. Ek kan nie wag om te sien hoe netjies geklee, in blou-en-oranje, die leerlinge op die paviljoen gaan vertoon nie. Ek belowe dat elkeen deur 'n ring getrek sal kan word.

Goeie huisvriende sal ons vergesel na Walvisbaai. Saans sal ons bring en braai, want oom Giel is ʼn braaimeester – hy is soos Jan Braai – uitmuntend. My familie gaan definitief die sportnaweek bywoon en dié byeenkoms ondersteun.

Akademie is hoog op my prioriteitslys daarom werk ek met ywer om my plek in die Top 5 te behou. Net my beste is goed genoeg, dus sit ek altyd my beste voet voor.

Luid sing ek ons bekende skoollied:
"Ankervas in die Hemelvader,
werk ons onder suiderkruis,
leer ons vreugde van kennissoeke –
is gesond, gelukkig, tuis".

Stil en aangedaan besef ek dan:
Elnatan my trots, my rots, my waarborg!

Rudolph du Plessis, Gr.9

(Met hierdie opstel het Rudolf die derde plek in die Griffel Skryfkompetisie, Afdeling Kortkuns Gr.8 en 9, gewen.)

Opmerkings oor Ek is sielsgelukkig

Gemiddelde sterre ontvang starstarstarstarstar

Kliek hier om u eie kommentaar by te voeg

Beoordeling
starstarstarstarstar
Uitstaande, geskryf deur 'n gelukkige jong man
deur: bines

Dit is 'n groot voorreg om die jong man en sy gesin te ken. Deur die jare was sy en hulle geluk, aansteeklik. Ek sien elke jaar uit om daar te kuier, en op die rooi duine onder 'n Kameeldoring boom te braai en lekker saam te verkeer. Die room van ons Afrikaner volk. Seën, voorspoed en lekker reën in die jaar wat voorlê.

Beoordeling
starstarstarstarstar
Kosbare Seun
deur: Meneer en tannie Hanelie Vermeulen

Rudolph. Meneer en ek het so pas jou kosbare opstel gelees en ons is so trots om deel te kon wees van 'n stukkie van jou skoolloopbaan by Privaatskool Elnatan. So trots om te kan sê dat jy ons seun, Johan, se sot was in graad 8. Hou aan om hard te werk want niemand kan jou geleerdheid en akademiese prestasies van jou wegneem nie. Baie geluk met jou prestasie en mag die res van jou skoolloopbaan nog lekkerder wees. Mag jy altyd so gelukkig wees en onthou om altyd aan jou Hemelse Vader vas te hou, want sonder
Hom is ons niks. Baie geluk aan SP, Mien en Kobus ook! Liefde uit Pretoria.
Meneer Vermeulen en tannie Hanelie

Beoordeling
starstarstarstarstar
Skrywer in wording
deur: Niki Hayward

Wow Rudolph, dit is 'n uitstekende stukkie skryfwerk. Baie geluk. Ons is baie trots. Dankie vir die uitstekende voorbeeld wat jy vir ons is. Dis regtig 'n voorreg om so gelukkige, ge balanseerde seun te ken! Hou aan skryf.

Beoordeling
starstarstarstarstar
ou neef!
deur: Anoniem

Daarsy my ou neef!
Ons laaik dit kwaai!

Beoordeling
starstarstarstarstar
Trots!
deur: Pa, Ma en Kobus

Ons liefste seun Rudolph dis so mooi.... met n knop in my keel lees ek vir pa en Kobus jou storie voor en besef net weer die wonder kind wat God aan ons geleen het.. so bly om te weet jy is SIELSGELUKKIG in die beste skool ELNATAN ons is trotse ouers van jou en ook van ons skool ELNATAN

Beoordeling
starstarstarstarstar
Mooi so!
deur: Anoniem

Geluk Rudolf! Hou aan skryf.

Kliek hier om u eie kommentaar by te voeg

Neem deel en skryf jou eie bladsy! Dit is maklik om te doen. Hoe? Kliek eenvoudig hier om terug te keer na Privaatskool Elnatan Stukkies-en-Brokkies.

Besoek ons "Ondersteuners"-blad vir meer inligting oor ons adverteerders!

elnatanbusroetesposter2022
elnatansportposter2022
elnatankultuurposter2022
elnatanfasiliteitposter2022
elnatanveiligheidposter2022