Elnatan Koshuise

Net soos die vrugbare sooie en die sub-artesiese water van Stampriet vele vrug tot volwassenheid koester, het Privaatskool Elnatan se koshuisleerlinge die voorreg om midde-in 'n plaasatmosfeer te leer en groot te word.

Omdat meeste van die kinders 80 kilometer en verder van die skool af bly, is Elnatan koshuise 'n noodsaaklikheid. Huis Cora, Huis Marie, Huis Hessie en Huis Frikkie is in die week die huise van ±160 leerlinge.

Verdraagsaamheid, mededeelsaamheid, leierskap en selfdissipline is van die eienskappe wat vinnig by koshuisinwoners ontwikkel. Koshuisverblyf maak dit maklik vir die kinders om aan hulle buitemuurse aktiwiteite deel te neem.  Die roetine en dissipline verskaf 'n atmosfeer waarbinne kinders kan presteer op akademiese, kulturele en sportgebied. 

Daar is selfs kinders wie se ouers in ons dorp woon, maar wat die koshuislewe verkies, omdat dit vir hulle so lekker is. Ons kinders kry selfs soms braaivleis en roosterkoek vir ete!

Soos die palmbome wat eie is aan ons skool se beeld, het die kinders ook deel aan die ryke tradisies van die koshuise.

Elnatan Junior Koshuise

Huis Cora is ons koshuis vir Graad 1 tot 3 leerlinge en staan onder die bestuur van me. Sansuné Olivier vanaf 2022.  Die koshuis het 'n meisies- en seunsafdeling.  Juf. Sansuné en Tannie Janine neem mamma se plek in die week in. By Huis Cora speel, lag en huil hul saam.

Huis Marie huisves Graad 4 tot 6 leerlinge (ook met ’n meisies- en seunsafdeling) en die superintendent is me. Marisha Snyman vanaf 2022. Huis Marie is die kleinste koshuis en hierdie uniekheid sorg dat die vriendskapsbande wat tussen Graad 4 en 6 gevorm word, blywend is!

Elnatan Senior Koshuise

Me. Nicole Francis is vanaf 2022 die superintendent by Huis Hessie, die koshuis vir Elnatan se hoërskool dogters. Dis hier waar die dogters sy aan sy blom onder die sonstrale van Jesus.

Mnr. Johan Adriaanse is die superintendent van Huis Frikkie, ons hoërskool seuns se koshuis. Hierdie is jou huis weg van die huis, waar seuns die mooi geniet, die waarheid liefhet en ander respekteer soos homself.

(Ons senior koshuise is onder andere beide vernoem na stigterslede van Privaatskool Elnatan: Mnr. Frikkie en mev. Hessie Strauss). Tradisievas!

Doen aansoek om deel te word van Privaatskool Elnatan!


Besoek ons "Ondersteuners"-blad vir meer inligting oor ons adverteerders!

elnatanbusroetesposter2022
elnatansportposter2022
elnatankultuurposter2022
elnatanfasiliteitposter2022
elnatanveiligheidposter2022