Ons as skool is trots op ons Elnatan personeel en deel graag op hierdie blad meer inligting oor elkeen van hulle.
U is welkom om te lees oor die opleiding, ervaring en portefeuljes van elke personeellid.
Die personeel is opgedeel in nege groepe. Kliek op enige skakel indien u vinnig na 'n betrokke groep wil navigeer.
"Onderwys is ʼn roeping; dit was nooit net nog ʼn werk nie."
~ Abraham Kaplan
Mnr. Tinus Botma
Skoolhoof
Tinus matrikuleer aan Mariental Hoërskool in 1994. Hy studeer aan Kovsies 1995 tot 1999 en daarna Unisa 2003 tot 2004. Sy vakke was Sielkunde, Menslike Bewegingskunde, Ondernemingsbestuur, Sportwetenskap, Biokinetika, Rekenaargeleeterdheid, Statistiek, Sportbestuur en Lewensoriëntering. Tinus verwerf BA, BA Hons en NGOS (Nagraadse Onderwyssertifikaat). Hy werk gedurende 2000 tot 2002 in Londen Engeland waarna hy in 2003 tot 2005 skoolhou by Primêre Skool Aranos. In 2007 tot 2011 gee hy onderrig by Privaatskool Elnatan en is vanaf 2012 tot 2018 Skoolhoof by Keetmanshoop Privaatskool.
Hy begin in 2019 as Skoolhoof by Privaatskool Elnatan. Hy is betrokke by atletiek (hekkies), rugby (O/11, O/13 en O/19) en Jukskei afrigting. Hy is getroud met Mariana en hulle het 5 kinders.
Mnr. Johan Adriaanse
Adjunkhoof
Onderwys: Graad 11&12 Wiskunde; Graad 9 Tegniese Tekeninge, Graad10 tot 12 Ingineurs Grafika en Ontwerp (IGO)
Hy matrikuleer aan Hoërskool Duineveld en studeer daarna B.Tech Meganiese Ingenieurswese.
Johan is vanaf 2005 by Elnatan en is betrokke by atletiek (driesprong en verspring) sowel as rugbyafrigting (O/11, O/13, O/19), krieket (O/15, O/19) en jukskei afrigting. Hy is getroud met Melani. Hulle het twee dogters.
Hy is ook die Superintendent van Huis Frikkie (Graad 7 tot 12 seunskoshuis)
Me Marisa van Zyl
Personeelbestuur
Marisa matrikuleer in 2001 aan Keetmanshoop Privaatskool.
Sy studeer BCom Bedryfsielkunde - Potchefstroom Noordwes Universiteit en in 2005 verwerf sy haar Honneurs Graad in Bedryfsielkunde met hoofvakke Bedryfsielkunde, bedryfsosiologie en sielkunde. In 2006 begin sy met ekometriese toetsings en 2007-2010 is sy deel van die onderwysspan by Privaatskool Elnatan. In 2011 gee sy vir 'n jaar lank onderwys by Danie Joubert Junior Sekondêre skool in Mariental.
In 2018 begin sy 'n agentskap vir "Biolink attention training" in Stampriet. Sy is betrokke op die direksie van Privaatskool Elnatan sedert 2018 as Personeelbestuur en sosiale media bemarker van die skool. Sy is getroud met FJ en hulle het 'n seun en 'n dogter.
Me. Elsabé Booysen
Finansiële beampte en Algemene sekretaresse
Elsabé matrikuleer aan Upington Kollege in 1995 met 'n Senior Sertifikaat in Sakestudies en sekretarieël. Sy verwerf haar Diploma in Interne Ouditkunde aan die Vrystaatse Tegnikon in Bloemfontein in 1998 en begin werk by Lindeman en Oelofse Geoktrooieerde Rekenmeesters in Bloemfontein (1998-2000) en later by JS Lambrechts in Pretoria (2000-2002). Van 2002-2008 is sy as Rekenmeester werksaam by Alert Staal in Pretoria waarna hulle verhuis na Aranos. Vanaf 2008 tot 2021 is sy deeltyds werksaam by NellHoek en Co in Mariental.
Sy is getroud met Jannie Booysen en hulle het 'n seun en 'n dogter.
Sy begin by Elnatan in 2022 as Finansiële beampte en algemene sekretaresse van die skool.
Me. Amelia Mulder
Finansiële Klerk en bestuur Carducci en Palmboutique
(sien meer inligting by Kleredrag)
Amelia matrikuleer aan Mariental Hoërskool. Sy doen daarna vir 'n jaar rekenaarkursusse en werk vir nege jaar by Van Heerden, Liebenberg & Kie Regspraktisyns in Mariental. Sy is in 1997 getroud met Frans en het toe plaas toe getrek en daar haar eie padstal bestuur en tuisonderrig gegee.
Amelia het in Mei 2014 by Elnatan Carducci begin werk. Hulle het twee seuns, Janco & F.P.
Vanaf 2019 werk sy ook as Finansiële Klerk by die skool.
Me. Annette Jooste
Departementshoof: Geesteswetenskappe
Onderwys: Engels Graad 8 tot 12
Annette Jooste matrikuleer aan die Hoërskool Jan Mohr in Windhoek en sy studeer BA met HOD aan die Universiteit van Stellenbosch asook DSO (RO) deur UNISA. Sy het twee seuns.
Annette het ook by HS Ysterplaat in die Weskaap, HS Akademia, Windhoek; HS Williston, LS Nico Bekker, en Mariental Hoërskool skoolgehou en vakke soos Bybelkunde, Sang en musiek, Afrikaans en Engels, Lewensoriëntering, Gr. 2 en RO gegee.
Sy begin in 2013 by Elnatan. Sy is betrokke by Idiomestryd, Redenaars en ander kultuur aktiwiteite by die skool.
Me. Marlene von Wielligh
Onderwys: Graad 8 tot 10 Wiskunde; Graad 11&12 Wiskunde Geletterdheid en Graad 8 CAMI
Marlene matrikuleer aan Hoërskool Jan Möhr en studeer daarna onderwys aan Windhoek Onderwys Kollege. Sy voltooi haar 4 jaar Hoër Onderwys Diploma. Vorige onderwyservaring sluit in Noordgrens Junior Sekondêre Skool in Rundu, Augustineum Kollege in Windhoek en Mariental Hoërskool (1991 tot 2014) waar sy vanaf 2003 tot 2014 Departementshoof was. Marlene het meer as 29 jaar ervaring as Wiskunde onderwyseres. Sy is getroud met Pieter en hulle het 'n seun en 'n dogter.
Sy begin in 2016 by Elnatan. Sy is betrokke by Netbal (O/14) afrigting en atletiekafrigting
Me. René Adriaanse
Onderwys: Graad 11&12 Besigheidstudies, Graad 10 tot 12 Rekeningkunde, Graad 9 Ekonomiese Bestuurswetenskappe
René matrikuleer in 2010 by Keetmanshoop Privaatskool en voltooi haar BComm Finansiële Rekeningkunde graad aan NWU in 2016 en ontvang ook 'n Golden Key toekenning in 2012. Sy doen haar Diploma in Sekondêre Opvoeding aan UNAM in 2020.
Sy gee Rekeningkunde en Bedryfstudies by Keetmanshoop Privaatskool van 2014-2015 en weer 2017-2018. 2019 begin sy by Windhoek Afrikaanse Privaatskool ook in Rekeningkunde graad 10-12, waarna sy in 2021 by Elnatan begin.
Sy is betrokke by Tienertoneel en ATKV aksies en help met atletiekafrigting
Sy is getroud met Duan Adriaanse en hulle het een seuntjie.
Me. Bernice Schroër
Onderwys: Graad 10 tot 12 Fisiese Wetenskappe, Graad 6&7 Wetenskap, Graad 10&11 Navorsingsmetodiek
Bernice matrikuleer aan Windhoek Afrikaanse Privaatskool in 2017. Sy voltooi haar BSc Biochemie/Chemie in 2020 Cum Laude en haar BSc(Chemie) Honneurs in 2021 aan NWU Potchefstroom. Sy word deel van die "Golden Key" familie in 2019 met haar uitstaande akademiese prestasies.
Sy begin in 2022 by Elnatan. Sy is betrokke by atletiekafrigting en Boogskiet.
Me. Yanka Agenbach
Departementshoof: Natuurwetenskappe
Onderwys: Graad 10&11 Computer Applied Technology (CAT), Graad 10 tot 12 Landboubestuurspraktyk, Graad 10 Wiskunde Geletterdheid
Sy matrikuleer aan Academia Hoërskool en studeer daarna BSc. Agric. (UOVS) en voltooi ook haar MSc. Volhoubare Landbou. Yanka werk elf jaar as Landbouvoorligter en navorser by die staat. Sy is getroud met Willie en hulle het twee dogters.
Sy is vanaf 2008 by Elnatan. Sy rig die eerste dogters hokkiespan af en is ook 'n Namibiese hokkie keurder. Sy is ook betrokke by atletiekafrigting en Mnr en Mej Elnatan.
Mnr. Charl van Schalkwyk
Onderwys: Graad 7 tot 12 Lewensoriëntering, Graad 7 tot 9 Sosiale Studies en Graad 7 Bybel.
Charl matrikuleer in 2007 aan Hoërskool Pionier in Suid Afrika. Hy studeer BA(Honneurs)Sielkunde sowel as BA Regte.
Hy gee Lewensoriëntering by Drakensberg Laerskool en daarna twee jaar lank Lewensoriëntering vir graad 4-12 by Edugate Academy in Otjiwarongo.
Hy begin in 2021 by Elnatan. Hy is betrokke by atletiekafrigting, krieket (O/11, O/13) en rugby (Midi's en O/15)
Me. Charlene Mouton
Onderwys: Graad 8 tot 12 Afrikaans.
Charlene matrikuleer by Edugate Academy en studeer aan die Universiteit van Pretoria, B.Ed (Menslike Bewegingskunde en Sport Bestuur). Sy doen sport vir TUKS (Atletiek) op verskeie geleenthede, en het twee maal internasionaal deelgeneem vir Namibië – Junior Wêreld Spele in Barcelona, Spanje (2011) asook Wêreld Studente Spele in Kazan, Rusland (2012).
Charlene begin in 2016 by Elnatan. Sy is getroud met Werner en hulle het 'n seuntjie en 'n dogtertjie. Sy is betrokke by atletiekafrigting (diskus) asook Redenaars by die Hoërskool.
Me. Adéll Killian
Onderwys: Graad 10 tot 12 Gasvryheidstudies, Graad 7&8 Ekonomiese Bestuurswetenskappe en Graad 7 Engels
Adéll matrikuleer aan Mariental Hoërskool in 2002, studeer by CPUT en voltooi haar B.Ed (Intermediêr en Senior Fase) in 2006 waarna sy begin skoolgee by Danie Joubert Gekombineerde Skool in Mariental van 2007 tot 2021. Sy het afrigtingsopleiding in netbal en atletiek en het ook 'n kortkursus gedoen in berading. Sy is getroud met Louwrens en hulle het twee kinders.
Sy begin in 2022 by Elnatan en is betrokke by atletiekafrigting (diskus, spiesgooi en gewigstoot) en netbal (O/17).
Me. Nicole Francis
Onderwys: Graad 10 tot 12 Aardrykskunde, Graad 10 tot 12 Toerisme
Nicole matrikuleer in 2013 by Elnatan. Sy studeer 4 jaar B.Ed. aan die Noordwes Universiteit.
Nicole begin in 2018 by Elnatan. Sy is betrokke by atletiekafrigting (middel- en langafstande), die gimnasium (dogters) en netbalafrigting (O/19)
Sy is Superintendent van Huis Hessie (Graad 7 tot 12 dogterskoshuis)
Me. Marisha Snyman
Onderwys: Graad 7 Afrikaans, Graad 8&9 Wetenskap; Graad 10 tot 12 Lewenswetenskap
Marisha matrikuleer aan Privaatskool Elnatan in 2013 en studeer daarna B.Ed. Intermediêr en Senior Fase Onderwys op Potchefstroom by NWU.
Sy begin in 2018 by Elnatan skoolhou. Sy is betrokke by netbal (O/15) en atletiekafrigting
Sy is die Superintendent van Huis Marie (Graad 4 tot 6 koshuis)
Me. Mariana Botma
Departementshoof - Senior Primêr
Onderwys: Engels Graad 4, Wiskunde Graad 4 tot 7
Mariana matrikuleer in 1994 aan Mariental Hoërskool. Sy studeer 1995 tot 1999 aan Kovsies (B.Sc.). Gedurende 2003 tot 2005 voltooi sy deur Unisa 'n NGOS (Nagraadse Onderwys Sertifikaat) met Wiskunde, Biochemie, Dierkunde, Dierevoeding, Biometrie en Natuurwetenskappe. Sy werk in Londen, Engeland in 2001 tot 2002; onderrig in 2003 tot 2005 aan Primêre Skool Aranos en 2007 tot 2011 aan Privaatskool Elnatan. Sy hou skool by Keetmanshoop Privaatskool vanaf 2012 tot 2018.
Mariana is getroud met Tinus. Sy begin in 2019 weer by Privaatskool Elnatan. Sy is betrokke by rugby (tjokkers) en atletiekafrigting (hoogspring)
Me. Nadine de Jager
Onderwys: Graad 4 tot 6 Afrikaans, Graad 5&6 Engels
Nadine matrikuleer by Elnatan in 2014 en voltooi B.Ed Intermediêre en Senior fase by NWU . Sy voltooi haar B.Ed(Honneurs) in Spesiale Onderwys Cum Laude in 2019
Sy begin in 2021 by Elnatan. Sy is betrokke by atletiekafrigting, netbal (O/12, O/13) en Redenaars vir die Senior Primêr.
Onderwys: Graad 4 tot 6 Inligtingskommunikasietegnologie, Graad 4 tot 6 Sosiale Studies, Graad 4&5 Wetenskap.
Sy matrikuleer aan Sannieshof Hoërskool en studeer BA
(Kommunikasiekunde) aan NWU (Pukke). Liesbeth werk daarna by Pukke. Sy is getroud met ds. Marthinus Snyman en hulle het een seun en drie dogters.
Liesbeth gee vir ses jaar Tuisonderrig voordat sy in 2007 begin skoolhou by Elnatan. Sy is betrokke by atletiekafrigting, skaak en noodhulp.
Me. Melinda Garbers
Departementshoof Junior - Primêr
Onderwys: Graad 3
Sy matrikuleer aan Hoërskool Frikkie Meyer, Thabazimbi en doen daarna BA HOD en Meesters Diploma in Personeelbestuur. Melinda was 'n Personeelbestuurder by SAB en is 'n ge-akkrediteerde Assessor en Moderator.
Sy het ook tien jaar ondervinding as sekretaresse vir mense in bestuursposte. Sy is getroud met Michael en sy het een seun.
Melinda begin in 2010 by Elnatan. Sy is betrokke by atletiekafrigting, Eisteddfod en NAPSO Kultuurfees.
Me. Hanneke van der Wath
Onderwys: Graad 2
Sy matrikuleer aan Privaatskool Elnatan. Hanneke studeer B.Ed. Intermediêre Fase in Wellington by CPUT. Sy is opgelei vir afrigting in netbal en atletiek (spiesgooi) en het Namibia op skoolvlak verteenwoordig in spiesgooi.
Sy begin in 2017 by Elnatan en is betrokke by atletiek- (spiesgooi) en netbalafrigting (O/11)
Me. Sansuné Olivier
Onderwys: Graad 1
Sansunè matrikuleer aan Hoërskool Walvisbaai en studeer B.Ed Grondslagfase in Wellington (CPUT). Haar passie en liefde vir kinders is enkele van die kenmerke wat van haar ʼn besonderse onderwyseres maak. Sy het ondervinding in die afrigting van atletiek, krieket, tennis, swem en netbal.
Sy begin by Elnatan in 2021. Sy is betrokke by atletiek- en netbalafrigting (O/9).
Sy is die Superintendent van Huis Cora (Graad 1 tot 3 koshuis)
Me. Melani Adriaanse
Onderwys: Remediëring, Graad 4 tot 6 Robotika, Graad 4 tot 6 Bybel, Graad 4 Kuns, Graad 5&6 Lewensoriëntering
Sy matrikuleer aan die Hoërskool Duineveld. Daarna studeer sy B.Ed (Grondslagfase) by CPUT, Wellington.
Sy is getroud met Johan en hulle het twee dogters.
Melani is vanaf 2007 by Elnatan. Sy is betrokke by die jaarlikse Mnr en Mej Elnatan asook by atletiekafrigting, rugby (tjokkers) en noodhulp.
Me. Helen-Mari Smith
Onderwys: Graad R - Palmpikkies Stampriet
Helen-Marie matrikuleer aan Hugenote Hoërskool in Wellington. Daarna voltooi sy haar B.Ed Grondslagfase graad aan die Universiteit van Stellenbosch in 2019. Sy hou skool by Bellville-Noord tot sy aansluit by Elnatan in 2021. Sy is getroud met Hanré.
Sy is betrokke by atletiek- en netbalafrigting(O/10) asook Mnr en Mej Elnatan.
Me. Maryna Hansen
Onderwys: Graad R - Palmpikkies Mariental
Maryna matrikuleer aan HTS Windhoek. Sy studeer by Boland College Regs sekretarieël en werk 4 jaar by spreekkamers. Sy voltooi haar IOL Diploma in Junior Primêre onderwys en gee skool by Danie Joubert Junior Sekondêre skool in Mariental vir graad 1 vir een jaar. Sy is getroud met Darius en hulle het 2 dogtertjies.
Sy begin Mei 2021 by Elnatan Palmpikkies Kleuterskool in Mariental. Sy is ook betrokke by atletiek- en netbalafrigting (O/7 en O/8)
Me. Marina Binneman
Marina begin in 2022 by Elnatan as 'n Assistent Onderwyseres. Sy is huidiglik besig met haar B.Ed graad Intermediêre fase deur NWU en is tans in haar derde jaar. Sy is 'n oudleerling van Elnatan wat graag weer wil terugploeg in haar Alma Mater.
Me. Chrizelle Roux
Chrizelle begin in 2022 by Elnatan as 'n Assistent Onderwyseres by Graad RR by die Palmpikkies in Stampriet. Sy is huidiglik besig met haar B.Ed graad Grondslagfase deur NWU en is tans in haar derde jaar. Sy is 'n oudleerling van Elnatan wat graag weer wil terugploeg in haar Alma Mater.
Me. Carine Kruger
Pos: Matrone
Sy matrikuleer aan Hoërskool Alberton en studeer daarna B.Soc.Sc
(Verpleegkunde) by Kovsies. Carine het twaalf jaar verpleegondervinding in
chirurgie en hoësorg.
Sy is getroud met Jaco en het twee dogters en een seun.
Sy begin in 2010 by Elnatan tot 2017 waar sy vir paar maande nie by skool is nie en dan weer aansluit by die personeel. Sy is betrokke by AGA (African Genesis Archery) boogskiet en het ook al Namibia as deel van die AAG (Adult Archery Group) span paar keer internasionaal verteenwoordig.
Me. Janien Esterhuizen
Pos: Junior Matrone - Huis Cora
Janien matrikuleer by Elnatan in 1995 en begin werk by Hardap Kooperasie. Daarna werk sy ook op die Hardap Proefplaas waarna sy getroud is met Jaco. Hulle het drie seuns, Corne, Jandré en Janco.
Sy begin in Junie 2018 by Elnatan.
"Skenk my die krag om,
wat ook wissel en kwyn,
Die jare deur as mens getrou te bly,
En sonder trots en sonder huigelary
My plig te doen voordat my dag verdwyn."
~ C. Louis Leipoldt
Besoek ons "Ondersteuners"-blad vir meer inligting oor ons adverteerders!
![]() |
![]() |