My lewe in 'n plakboek

deur Karmi Fourie
(Privaatskool Elnatan, Stampriet, Namibië)

My lewe in 'n plakboek

'n Mengelmoes van onbelangrikhede wat eens belangrik was: Hier 'n foto, daar 'n herinnering. Onvergeetlike tye wat my lewe lank by my sal bly. Hier 'n traan, daar 'n glimlag. Warrelwinde van emosies ruk my heen en weer. My lewe in 'n plakboek...

Ons lewens is gevul met herinneringe, sommige aangenaam, ander minder so. Tog sal dit vir altyd by jou bly. Ons selfone se geheues is propvol "selfies", soos ons dit ken en die foto's is niks anders as herinneringe nie.

Ek blaai na bladsy een. Elke jaar op die 1ste Januarie skaf mense 'n nuwe plakboek aan vir die jaar wat voorlê. Bladsy een is gewoonlik een van die kleurvolle bladsye. Ons almal vier Oujaarsaand, al is dit saam met familie of 'n paar vriende - só maak ons herinneringe. My eerste bladsy is 'n collage van foto’s met vriende en familie wat met kleure soos pienk, pers, geel, oranje en blou versier is.

Bladsy twee volg: Die skooljaar begin. Ons skoolklere is effens stywer, ons tasse effens swaarder en ons belangstellings verander. Hierdie dag wil ons ook goed begin en by Elnatan kan dit nie anders as om 'n dag vir jou plakboek te wees nie. My hoofopskrif vir bladsy nommer 2 sal beslis "MY SKOOL, MY TROTS" wees. Dié bladsy is met koningsblou en oranje versier. Ek voel hierdie gaan 'n goeie jaar wees!

Bladsy nommer drie. Ons verlang na die huis en die koshuismure druk ons vas. Die juffrouens is volstoom aan die werk en ons eerste toets is agter die rug. Vandag kry ek swaar en wens alweer vir vakansie. Dinge lyk bietjie anders vandag. Dit voel of 'n donkerwolk op my neerdaal. Ek sukkel om positief te bly oor die jaar wat voorlê. Vandag word met 'n pikswart bladsy en geen glimlagte versier nie. Môre, is nog 'n dag en net dalk maak pienk, pers en blou weer hulle opwagting.

So sal ons lewens aangaan, maar die waarheid is ons moet ons fokus behou en glo in die mooi van die lewe. Daarom sluit ek af met die volgende: Ek wil hê jy moet saam met my sing as musiek begin speel en dans in die somer se reën terwyl ons 'n reënboog langs die pad soek…

Kliek hier om kommentaar te lewer.

Neem deel en skryf jou eie bladsy! Dit is maklik om te doen. Hoe? Kliek eenvoudig hier om terug te keer na Privaatskool Elnatan Stukkies-en-Brokkies.

Besoek ons "Ondersteuners"-blad vir meer inligting oor ons adverteerders!

elnatanbusroetesposter2022
elnatansportposter2022
elnatankultuurposter2022
elnatanfasiliteitposter2022
elnatanveiligheidposter2022